News

Hier is jou kans om jou geskiedenis-kennis te toets

Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade

 

Stel jy belang in geskiedenis of het jy dit as vak op skool? Dan het die FAK die ideale geleentheid om jou kennis te toets en uit te brei.

Die FAK stel ’n Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade – ’n aanlyn toets vir leerders van graad 8 tot 12 bekend. Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis met drie hoofafdelings, nl. Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis.

Leerders kan reeds van nou af vir hierdie geskiedenisolimpiade by olimpiade.fak.org.za inskryf. Die toets word in Augustus geskryf.

Dit gee die leerders kans om sekere bronne – soos afrikanergeskiedenis.co.za – deur te werk en hulle kennis te toets. Die bronne sal later bekendgemaak word.

Die geskiedenisolimpiade sal uit twee rondtes bestaan. Die eerste rondte behels ’n aanlyn vraestel wat bestaan uit 150 punte met 150 multikeusevrae – 50 punte vir elke afdeling.

Afdeling 1, Afrikaanse taalgeskiedenis, sal vrae hê oor digters (bv. wie het “Winternag” geskryf? Wie is die digter wat in die see geloop het?), die oorsprong van Afrikaans, die prestasies van Afrikaans (bv. eerste gedig, eerste gedrukte boek, eerste Afrikaanse Bybelvertaling), Afrikaanse liedjies en Afrikaanse boeke.

Afdeling 2, Afrikanergeskiedenis sal vrae insluit oor die VOC-tydperk, die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog, Republiekwording, asook 1994 en daarna.

Afdeling 3, Westerse geskiedenis, sal die kennis toets oor ontdekkingsreisigers, ontdekkers, die Reformasie, oorloë en rewolusies en leiers.

Diegene wat deurdring na rondte 2 skryf ’n aanlyn vraestel waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word. Om deur te dring na rondte twee moet ’n kandidaat minstens 80% in rondte 1 behaal het.

Alle deelnemers ontvang ’n deelnemersertifikaat. Almal wat deurdring na die tweede rondte ontvang ’n medalje sowel as ’n erkenningsertifikaat.

Pryse sal soos volg wees: Die algehele wenner ontvang R10 000; tweede prys R5000 en derde prys R2500. Die wenskool ontvang R10 000 en ’n FAK-Wisseltrofee vir geskiedenis.

Die wenskool sal bepaal word na aanleiding van die hoeveelheid leerders per skool wat deelneem en ’n sekere persentasie ontvang.

Alle navrae kan gerig word aan chrisna@fak.org.za

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button