News

KWÊLA SOEK 2019 SE DORP VAN DIE JAAR

KWÊLA SOEK 2019 SE DORP VAN DIE JAAR

 

 

Dit is weer tyd vir Kwêla se gewilde Dorp van die Jaar-kompetisie!

Maak jou dorp se mense die lekkerste gebak? Is dit die een dorp in die land waar jy altyd sal tuis voel as jy in die strate afry? Hoeveel skatte lê versteek in jou gemeenskap? Is julle slaghuis die bes bewaarde geheim in die land? Benoem nou jou gunsteling dorp en staan ’n kans om met die dorp en die mense daar te spog!

In 2018 is Jeffreysbaai as die agste wenner van die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie gekroon, terwyl Mosselbaai in 2017 met die louere weggestap het. Mariental, Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg het ook al die Dorp van die Jaar-kroon gedra.

Dorpe kan van nou, 3 Februarie, tot 12:00 op 15 Februarie genomineer word.

Net die naam van ’n dorp wat iemand wil nomineer in Suid-Afrika of Namibië, kan per SMS gestuur word na 33157 (sms kos R1,50). Daar is geen beperkings op die aantal sms’e wat gestuur word nie.

Wie kwalifiseer?

Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit:

· Minder as 500 000 inwoners het

· Nie ’n streekswenner in die laaste twee jaar was nie

· Wenners van die vorige ses jaar kwalifiseer nie (vanaf 2014-2019)

Streeksuitdunne (waar die publiek weer kan stem vir wie hul streek moet verteenwoordig) word op 3, 10 en 17 Maart uitgesaai.

Die insetsel met die uitsending van die eerste finalis word op 31 Maart op Kwêla uitgesaai en na al die finaliste ’n beurt gekry het, sal kykers in Mei kan stem vir die wenner. Die wendorp sal dan in Junie aangekondig word.

Soos elke jaar, sal die wendorp ’n heerlike makietie kry, asook ’n 45-sekonde advertensie oor die dorp, deur Homebrew Films vervaardig, wat R1 miljoen se lugtyd op kykNET kry.

Kwêla word Sondae 18:00, op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.

Related Articles

Back to top button