LetterNewsOpinions

Geskok oor SA se uitlate oor die Coronavirus

Geskok oor SA se uitlate oor die Coronavirus

Met erkenning aan Potchefstroom Herald se webtuiste

Marianke Saayman, voormalige joernalis van Potchefstroom Herald en tans Engelse Onderwyser in China skryf:

Ek is  slegs net ‘n maand in China, en skielik breek daar ‘n dodelike virus uit wat mense regoor die wêreld in ‘n paniekbevange waansin in dryf.

Mense kruip in hul huise weg en bid omdat hulle glo dat dit die eindtyd moet wees. Die ergste is: “Ja, die Chinese verdien om dood te gaan van die virus.

Ek was uiters geskok toe ek sien hoe my mense, Suid-Afrikaners, hulself oor die virus op sosiale media uitlaat.  Ek woon al ‘n maand tussen die Chinese en as daar een ding is wat ek daarvan geleer het, is dat hulle glad nie veel anders as ons is nie.

In die afgelope maand was die Chinese nog net goed vir ons.

Ja, hier is ‘n virus wat al meer as 200 mense doodgemaak het, maar ek is minder bang hier as wat ek was toe ek in Suid-Afrika gewoon het. China is veilig. Jy kan 03:00 in die oggend huis toe stap, stoksielalleen, en niks gaan met jou gebeur nie. Mense hier is min getraak oor ander. Hulle gee nie om hoeveel geld of besittings die ander een het nie. Hulle gun mekaar dit. Niemand steel van mekaar nie, hulle werk vir dit wat hulle het. Hulle sal mekaar ook nooit verkrag of doodmaak nie, want hulle het geen rede om mekaar kwaad aan te doen nie.

Ek is eintlik veronderstel om oor die virus te skryf, en nie oor hoe wonderlik China is nie. Ja, dit is waar. Daar is ‘n dodelike virus wat regoor China versprei het. Die nuutste data wat ek ontvang het (31 Januarie om 17:10 Beijing tyd) sê 213 mense is al dood, 9 810 mense is positief vir die virus getoets, 15 238 mense word vermoed en 180 mense is genees. Die meerderheid van die sterftes en positiewe gevalle is in Wuhan, die stad waar die virus na bewering ontstaan het.

Om dit in perspektief te sit: Wuhan het ‘n bevolking van 11 miljoen mense. Indien al die sterftes net in Wuhan was, beteken dit dat 0,009% van die bevolking dood is. Die hoeveelheid mense met die virus is in die stadium 9 810 mense regoor China (en in ‘n paar ander lande ook). China het ‘n bevolking van 1,386 miljard mense. Ek gaan nie eers die persentasie hiervan probeer uitwerk nie.

Die punt wat ek probeer maak is – dit is nie so erg buite Wuhan nie. Meer mense gaan daagliks dood van die algemene griep as van die nuwe Coronavirus. Byna almal wat dood is, is bejaarde mense en mense met reedsbestaande-siektestoestande – mense met swak immuunstelsels. Ek is daarom nog nie bekommerd oor my eie gesondheid nie.

Baie mense vra vir my hoe dit nou hier lyk. Kry ons kos? Hulle het gehoor die kosvoorraad word afgesny.

Dit lyk normaal.  Ons winkels het kos en die openbare vervoerstelsels werk soos normaal. Almal dra wel maskers. Ons ook. Jy word skeef uitgekyk as jy sonder jou masker op straat rondloop, so ons doen dit maar. Ons temperatuur word gemeet voor ons op die trein klim en ook voor ons in sommige winkelsentrums mag ingaan.

In Wuhan self is dinge erger. Mense mag nie in of uit die stad nie, en ek verstaan dit. Dit is ‘n manier om te keer dat die virus nog verder versprei. Die regering probeer hul bes om die uitbraak onder beheer te hou. Die vakansie is met meer as ‘n week verleng. Skole maak byna twee weke later eers oop. Dit sou natuurlik lekker wees as ons kon reis en die res van China kon gaan verken, maar weens die virus sit ons maar by die huis.

Ek glo dat die mense in Wuhan sal sterk sterk bly. Mense moet net ophou om fopnuus oor die virus te versprei en hulle moet beslis ophou om te sê dat die Chinese dit verdien. As jy niks gaan sê wat kan help nie, bly eerder stil.

 

  • Volgens die jongste syfers het 361 mense in China nou reeds gesterf as gevolg van die virus en die aantal nuwe infeksies in die land het gestyg tot 2828 wat die totaal op 17 205 te staan bring.

Related Articles

Back to top button