News

Elke uitdaging ’n aansporing vir Genevieve

“Daar gaan dae wees wat jy sukkel, maar die kuns is om aan te hou probeer tot jy dit baasraak.”

Met geoefende hande vat sy die borsels raak om te roskam in die kampie waar sy Flicka pas afgesaal het. Jy sien met die naderstap die hegte band tussen perd en ruiter. Anders as haar ryskool-maats het Genevieve Croeser nog nooit vir Flicka kon sien nie, want Genevieve is blind. Maar vir haar is haar blindheid nie ‘n hindernis nie, maar ‘n ongelooflike getuienis van deursettingsvermoë, van aanhou en nie moed verloor nie, van waagmoed en durf om in ‘n siende wêreld selfstandig oor die weg te kom.

Genevieve is prematuur op 28 weke gebore en het die hoë suurstofvlakke waaraan haar oë in die broeikas blootgestel was, haar kornea en retina laat skeur. ‘n Toestand bekend as retinopatie van prematuriteit.
Gevolglik was sy van die begin heeltemal blind in haar regteroog en het net 7% sig in haar linkeroog gehad. Op 2 het sy die bietjie sig wat sy gehad het ook verloor. Maar dit is haar vriende, haar ouers,
Wouter en Natasha, ouma Rina, haar onderwysers, en haar afrigter, Martie Bezuidenhout, wat Genevieve se ankers in haar lewe is. Dit is hulle wat haar nooit ten spyte van haar blindheid teruggehou het, of anders behandel het nie. Wat haar die geloof in haarself gegee het.

So kon Genevieve wat net sowat ‘n jaar gelede weer begin perdry het, Saterdag aan haar eerste VS Sanesa Western Riding kwalifiserende uitdun deelneem. Meer nog – sy en Flicka het teen nie-gestremde ruiters meegeding, en geskitter met ‘n eerste plek vir Western Pleasure, en ‘n tweede plek vir Showmanship at Halter.
Genevieve is vanjaar ‘n graad 11 leerder aan die Hoërskool Parys.
Sy vertel dat sy Flicka nog net sowat vier maande het. Hoewel sy toe sy baie klein was ook perd gery het, moes sy ophou toe die gesin Pretoria toe getrek het waar Genevieve in die Prinshof Skool vir Blindes was vandat sy 6 jaar oud was

Einde 2015 het die gesin teruggetrek Parys toe en het sy haar graad 7 jaar by Parys Christelike Skool voltooi.

Sy is in Hoërskool Parys sedert haar graad 8 jaar. Naas haar maats en onderwysers se hulp het sy ook ‘n Apex Braille Note en Braille Printer, wat haar help om oor die weg te kom.
So is sy onder die akademiese toppresteerders in haar graad, en neem sy ook aan redenaarskompetisies deel. Maar sport was nog altyd ‘n uitdaging totdat haar liefde vir perdry die oorhand gekry het.
Genevieve en Flicka het reg van die begin ‘n besondere band gehad, ‘n ritme van liefde wat pols in hul fyn aanvoeling vir mekaar. Toe sy Flicka kry, het sy geweet dat sy wou skou en met dié doel voor oë geoefen.
Omdat daar nog nie reëls vir gesiggestremde Sanesa-ruiters is nie, moes Martie help skryf aan die reëls vir Saterdag se skou. Geen opoffering was te groot om Genevieve gereed te kry nie.


Op haar hand of been het Martie vir Genevieve die baan met haar vingers geteken. Haar laat loop op die baan sodat sy sou weet hoe hoog of laag Flicka sou trap om in en uit die baan te beweeg. Met ‘n klankstelsel wat netjies in haar ryhoed pas, en moontlik gemaak is deur Parysenaars, André Els, André van der Schyff en Erika Edworthy, is Martie se stem in haar oor, Genevieve se gids op die baan wat haar lei om Flicka oor elke hindernis en na elke punt op die baan te stuur.
Ja, daar is dae wat Flicka soos enige ander perd moeiliker is om te hanteer as ander dae, maar ook dit hanteer Genevieve. Sy versorg Flicka self en kan doen wat al haar ryskoolmaats met hul perde doen, want vir haar is dit belangrik om soos ander haar drome te kan uitleef, te kan inskakel en te onthou dat ander ook uitdagings het.

“Daar gaan dae wees wat jy sukkel, maar die kuns is om aan te hou probeer tot jy dit baasraak.”

 

Related Articles

Back to top button