News

Verslaaf aan ‘n vinnige lewenspas? Leef stadiger

“Om vinnig te lewe is nie lewe nie, dit is oorlewing.”

Vanessa van der Westhuizen van Potchefstroom Herald skryf:

“Om vinnig te lewe is nie lewe nie, dit is oorlewing.” Hierdie wyse woorde van ‘n Kanadese joernalis, Carl Honoré, dwing ‘n mens om te reflekteer en jou eie lewensstyl in oënskou te neem. Dit is ironies dat mense dinge vinniger doen om nie tyd mors nie, maar in die proses nie besef dat spoed eintlik ons lewens mors nie.

‘n Amerikaanse sielkundige, dr. Stephanie Brown, is ‘n bekende navorser wat spesialiseer in verslawing en reken dat vandag se samelewing aan ‘n vinnige lewenspas verslaaf is. Volgens haar, soos met enige verslawing, verloor mense beheer en word dit in hulle optrede, gevoelens en denke weerspieël – tog glo hulle dat hulle normaal is.

 Toename in stresverwante versteurings

Brown sê verder dat ‘n vinnige lewenspas die oorsaak is van ‘n geweldige toename in stresverwante versteurings by mense van alle ouderdomme. Dit begin by laerskoolleerlinge wat sukkel met obesiteit, depressie, angstigheid, aandagversteurings en allerhande leergestremdhede.

Brown sê die uitputtende lewenspas is ‘n bose kringloop wat oorstimulering en oorskedulering aanmoedig.  “Dit word kroniese stressors wat lei tot aandag, gedrags- en gemoedsversteurings wat fisiese, emosionele en gedragsprobleme tot gevolg het.”

Tegnologie kan jou aandag en kreatiwiteit ontneem

Tegnologiese vooruitgang is veronderstel om ons kreatiewe denke te stimuleer, maar die groot hoeveelheid inligting waaraan ons blootgestel word, het juis die teenoorgestelde uitwerking – dit ontneem juis ons aandag en kreatiwiteit.

Mense het minder tyd om te reflekteer en hulle het voortdurend die impuls om iets te doen, ‘n behoefte om aanlyn te wees, om te kyk of hulle boodskappe en “likes” het.

Volgens Brown is die nie ‘n kuns om meer as een ding op ‘n slag te doen (multitask) nie. “Dit gee aanleiding tot interne chaos en fragmenteer jou aandagspan. Om die heeltyd jou aandag te verander, verminder jou vaardigheid en konsentrasie.”

 Onderbreek inpuls-gedrag

Sy beveel aan dat jy jou impuls-gedrag moet probeer onderbreek en ten minste een uur per dag jou foon afskakel. Fokus dan eerder op lees, gee jou onverdeelde aandag aan jou familie of vriende, gaan stap met die hond of kook ‘n maaltyd.

Sy benadruk verder dat die grootste prys wat ons vir ‘n gejaagde lewe betaal, ons interpersoonlike verhoudings is wat skade ly. Tegnologie waaraan jy verslaaf is, dra nie by tot hegte verhoudings nie. Dit dra eerder by tot persoonlike verhoudings wat vermy word omdat dit moeite en tyd verg.

Vyf wenke om standiger te lewe

  1. Leer om “nee” te sê. Jy hoef nie by elke sosiale geleentheid te wees waarna jy uitgenooi word nie. Moenie tyd saam met mense spandeer wat jou dreineer nie. Sny negtiewe mense uit jou lewe.
  2. Wees stil. Skep meer tyd om na te dink. Jy kan dit op verskillende maniere doen deur byvoorbeeld Bybelstudie of meditasie.
  3. Doen waarvoor jy lief is op jou eie pas. Gaan drink ‘n koffie saam met iemand, stap met die hond of lees ‘n boek.
  4. Leef in dankbaarheid. Dink aan drie dinge waaroor jy dankbaar is elke dag. Om dankbaar te wees het ‘n positiewe geestelike en emosionele effek. Om dankbaar te wees laat jou vergeet van dinge wat jy nie het nie.
  5. Verminder tyd op die skerm. Probeer om ten minste een uur per dag jou foon af te sit om kwaliteit tyd saam met jou familie te spandeer.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button