NewsNews

Hangbrug: So kan jy Saterdag help

Net 'n positiewe gesindheid en die wil om te help kan alreeds 'n groot verskil maak.

Daar is kwalik iets meer eie aan Parys as die hangbrug oor die Vaalrivier wat die dorp met Gholfeiland verbind. ‘n Bakenmerk vir toeriste en seker een van die mees gefotografeerde toeriste-aantreklikhede vir die dorp. Of dit op brosjures, in tydskrif-aftikels of TV-programme oor Parys is – jy kan seker wees die hangbrug sal daar wees. Menige troufoto en matriekafskeid foto is hier geneem.

Tog is die brug met die graffiti wat gereeld daarop geverf of geskryf word, en rommel wat hier agtergelaat word vir baie inwoners ‘n seer in die oog en geen goeie advertensie vir die dorp nie.

Dit is juis dit wat in 2013 ‘n groep van 12 vroue van ‘n teeklub in die dorp laat besluit het om iets daadwerklik te doen om die situasie reg te stel. Hulle wou die hangbrug en omgewing weer opknap en skoonkry om dit die trots van die dorp te maak deur die brug te verf, vullisdromme aan te bring, die draad by die brug te herstel, die sypaadjie gelyk te kry, bankies op die oewer te sit, en seker te maak waterlekke en slaggate word herstel.

Maar dit was uiteindelik Johan Bosman wat die bal aan die rol gesit het vir die vroue, en het hulle daarna self uitbeweeg in die gemeenskap om skenkings te kry vir die verf, sweiswerk, draadspan, vullisdromme, vullissakke, betonbankies en selfs ‘n inligtingsbord.

Na die groot werk wat destyds met die projek gedoen is danksy die vroue se inisiatief, is mense se harte warm gemaak vir die behoud van hierdie mooi erfenis wat in 1919 opgerig is maar waaroor weinig inligting vandag bekend is.

Parys was jare gelede bekend vir sy lekker piekniekplekke en is daar toe al gefokus op toerisme. Dit was bes moontlik ook die rede waarom die brug gebou is. Tog weet ons nie vandag wie die kontrakteur was nie en hoe die bouwerk verloop het nie.

Sedert 2013 is daar steeds mense wat daagliks na die brug omsien. Mense soos Johan Bosman wat telkens seker maak dat die graffiti toegeverf word, asblikke skoongemaak word, vullis opgetel en die gras by die brug gesny word. Inwoners in die omgewing van die hangbrug wat omgee. Mense soos die Rotaryklub wat onlangs ingespring het om slaggate in die omgewing van die brug te herstel juis ter wille van toerisme.
Hierdie Saterdag, 1 Februarie vanaf 09:00, sal daar weer soos in 2013 gepoog word om die hangbrug die trots van die dorp te maak. Wil jy nie kom help nie? Al mag dit dalk net ‘n klein begin wees, is dit ‘n reuse bydrae vir die dorp en sy besighede wat suiwer afhanklik is van toerisme vir sy voortbestaan.

As jy nie kans sien om te help nie, kan jy dalk ‘n bydrae maak. Enige skenkings vir swartsakke, verf, rollers ensovoorts sal waardeer word. Daar is selfs mense wat al aangebied het om verversings reg te hê vir hulle wat Saterdag aan die projek deelneem. Skakel Diane van Nieuwenhuyzen by 071 388 0446 om te hoor hoe jy kan help.
As jy elektronies ‘n bydrae wil maak kan jy ‘n inbetaling doen in die volgende rekening: Iris Andres T/A Parys Museum, FNB, takkode 230735, rekeningnommer 62769589600. Gebruik asseblief die woord ‘hangbrug’ as verwysing.

.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button