News

Hangbrug: Help ons dorp se erfenis bewaar

Om dit te kan doen is hande en fondse nodig. Enigiets wat jy kan doen om te help om hierdie erfenis van Parys te bewaar.

Stap jy nader na die hangbrug oor die Vaalrivier in Parys, vang die honderde slotte wat blink in die son jou oog, vasgemaak vir tyd en ewigheid aan die brug. Slotte wat jou herinner aan die gesig wat jy sien by die Pont des Arts in Frankryk.
Maar dit is ook hierdie brug wat in 1919 opgerig is, wat oor die jare een van Parys se bekendste besienswaardighede geword het.
Dieselfde brug wat oor die jare heen al dikwels moes deurloop onder vandale en skrootdiewe soos onlangs weer, toe graffiti-name teen die brugmure geskryf en die brug se staalstawe weggedra is.

Van die graffiti wat destyds toegeverf moes word met die eerste hangbrug-gemeenskapsprojek. Foto’s verskaf deur Tanja Holtzhauzen uit argiewe van die eerste projek.

Die herstel van die draadwerk by die brug verg deurlopend aandag.

Sewe jaar gelede het Elize Bosman en Tanja Holtzhausen saam met ‘n span vrywilligers ingespring en geverf, die draadwerk aan die brug herstel en selfs ‘n inligtingsbord aangebring. Sedertdien is dit Elize se man Johan, wat toesien dat die brug netjies gehou word vir die talle mense wat die dorp besoek, maar ook inwoners wat die rustigheid van die rivier kom geniet, want hierdie is ‘n projek wat moet aanhou, sê Johan.
Hy kry geen vergoeding nie en dikwels gaan hierdie werk by baie dalk ongesiens verby. Dit is mense soos Johan wat sy tyd opoffer, maar ook self die hand in die sak steek om die gras by die brug kort te hou, asblikke skoon te maak – en ja selfs ander se gekrap op die brugmure telkemale toe te verf.
Hoekom, sal jy vra? Want wat besoekers hier sien dra ‘n beeld uit van ‘n dorp en sy mense.
Dit is ook waarom daar op Saterdag 1 Februarie, sewe jaar na die vorige hangbrug gemeenskapsprojek, die brug weer geverf en draadwerk reggemaak sal word. Die projek is geloods deur Diane van Nieuwenhuyzen en Shawn Stevens en word gedoen met die toestemming van die munisipaliteit.
Om dit te kan doen is hande en fondse nodig. Enigiets wat jy kan doen om te help om hierdie erfenis van Parys te bewaar.
‘n Facebookblad met die naam, “Vriende van die 1919 hangbrug” sowel as ‘n WhatsApp-groep met die naam, “Hangbrug Help!!!!”is intussen gestig. As jy op enige manier kan help of ‘n bydrae wil maak, of gevoeg wil word tot hierdie sosiale platforms, skakel vir Diane by 071 388 0446.
Hou ook Gazette se webblad www.parysgazette.co.za en Gazette se Facebook-blad dop vir nog interessanthede oor die hangbrug en die vordering van die projek.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button