NewsNews

So kon boere, polisie, plaasaanval in Koepel afweer

Die Vrystaatse polisiekommissaris, luitenant-generaal Baile Motswenyane het na die arrestasie die boere geloof vir die uitstekende werk

Ses verdagtes tussen die ouderdom van 26 en 34 het Maandag in die Vredefortse landdroshof verskyn nadat boere, lede van die Vredefort Koepel Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) en die polisie die afgelope naweek met skitterende samewerking ‘n beplande plaasaanval kon afweer.
Die mans word aangekla vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Herman van Wyk van Vredefort Koepel GPF sê dat inligting ‘n week gelede gekry is van ‘n moontlike aanval/roof op Pieter en Erna Rademan van die plaas Goedgedacht langs die S717-grondpad naby die R59 in die Vredefort-distrik.
Die polisie en boere in die distrik is gewaarsku waarop waaksame Vredefort Koepel GPF-lede laat Saterdagmiddag ‘n verdagte rooi Polo en wit Toyota bakkie met Gauteng-registrasienommers opgemerk het.
Die Rademans en die polisie is in kennis gestel en het GPF-lede die voertuie onder oë gehou. ‘n Padblokkade is saam met Vredefort SAPD naby die plaas Vlakplaas opgestel.
By die padblokkade gekom het die Polo omgedraai en probeer wegjaag, maar was die arm van die gereg net té lank.
Met die arrestasie van die 6 mans het die polisie ook beslag gelê op 3 vuurwapens en die twee voertuie. Daar is later vasgestel dat een van die wapens ‘n speelgoedgeweer was.

Die gekonfiskeerde vuurwapens.

Dankie aan al die betrokke SAPD eenhede, Vredefort Koepel GPF, die Koepel Boerevereniging en boere van die Vredefort-distrik wat onder meer ‘n groot bydrae lewer tot beriggewersfondse en die kamerastelsel in die Vredefort Koepel.
Die Vrystaatse polisiekommissaris, luitenant-generaal Baile Motswenyane het na die arrestasie die boere geloof vir die uitstekende werk en gesê dat die polisie enige aanval op die boeregemeenskap in ‘n baie ernstige lig beskou. “Daarom het ons die bekamping van misdaad in die landbousektor geprioriseer omdat die landbousektor ‘n kritieke rol in die land se ekonomie speel.”

 

Related Articles

Back to top button