
Verbruikers hoef nog nie beurtkrag vandag (Maandag 20 Januarie) te vrees nie, sê die kragreus Eskom. Wat meer is – die kans op beurtkrag later die week is ook skraal, omdat daar genoeg reserwes by Eskom se noodkragopwekkers is om te kan voorsien in die vraag vir elektrisiteit sou dit nodig word.
Eskom het oor die naweek met die tammeletjie gesit van dieselkragopwekkers en pompopgaarskemas wat gebruik moes word nadat van sy eenhede Saterdag onklaar geraak het. Derhalwe moes daar staatgemaak word op noodstelsels.
Rapport het Sondag berig dat Eskom alreeds 50% meer op sy begroting uitgegee het vir die gebruik van dieselopwekkers wat net in nood gebruik word juis om hierdie kostes te beperk.





