NewsNews

Ontmoet Parys Primêr se nuwe hoof

Ontmoet Parys Primêr se nuwe hoof

“Dit maak my opgewonde vir die voorreg om met kinders te kan werk.”
So gesels mnr. Shaun Strydom wat vanjaar die leisels neem as hoof van Parys Primêre skool. Dit volg na die aftrede van mnr. Chris de Swardt, en mnr Gresse wat daarna tydelik as hoof waargeneem het tot sy aftrede einde 2019. Shaun en sy vrou, Adéle, kom van die Wesrand waar hulle vir 16 jaar gevestig was, maar is Parys vir hulle geensins onbekend nie. “Glo my, ons wortels is hier,” sê hy wanneer hy vertel dat sy ma en al haar broers en susters hier skoolgegaan het. Die gesin het ook heelwat familie wat hulle sommer al klaar met hul intrek kort voor Kersdag kom welkom heet het.

Shaun was adjunkhoof van Laerskool Protearif, en Adéle onderwyseres by Laerskool Kenmare, voordat hulle albei die poste by Parys Primêr aanvaar het. As onderwyseres met ‘n passie vir grondslagfase onderwys, skakel Adéle in as graad 3 onderwyseres by Parys Primêr. Die egpaar het twee kinders, Wihan wat sy graad 6 jaar hier sal begin, en Imari wat nou graad R is.
Shaun vertel dat dit vir hom ‘n voorreg is om soveel staatmaker onderwysers op die personeel te ‘erf’. “Ek is baie bewus van die uitstekende werk wat deur my voorgangers hier gedoen is en wil voortbou op dit wat gevestig is.” Vir hom gaan dit alles tot voordeel en in belang van die kind. Wat hom die meeste opval van Parys is die sterk gemeenskap samehorigheid. Wanneer hy tussendeur die onderwys kans kry, is hy ‘n man wat lief is vir lees, en vir wie musiek ‘n passie is.

Related Articles

Back to top button