NewsNews

Eskom: ‘n Donker vooruitsig word voorspel

Eskom: ‘n Donker vooruitsig word voorspel

Eskom publiseer weekliks ’n vooruitskatting op sy webwerf van die stand van kragopwekking oor die volgende paar weke. Volgens sy jongste “vooruitsig” is daar nie veel om na uit te sien nie. Dit gaan glo vanaf die eerste week in Februarie vir Eskom moeilik wees om aan die vraag vir elektrisiteit te voldoen.

In daardie week beplan Eskom om 5 625 MW se opwekkingsvermoë weens beplande instandhoudingswerk in te boet. Tesame met 9 500 MW se verlore kapasiteit weens foute gaan Eskom meer as 15 100 MW kwyt wees. Dit beteken in kort: minder elektrisiteit vir meer huishoudings.

Teen einde Maart staan dié syfer op meer as 16 300 MW en teen die begin van April klim dit tot meer as 16 500 MW. Gegewe dat fabrieke, myne, smelterye en sakeondernemings teen daardie tyd weer volstoom aan die gang is, stuur dit op ’n situasie af waartydens fase 6-beurtkrag waarskynlik weer sy kop gaan uitsteek.

Eskom moes die eerste keer ooit fase 6-beurtkrag op 9 Desember instel toe hy 17 000 MW se opwekkingsvermoë verloor het. Tydens fase 6-beurtkrag moet die kragreus 6 000 MW se krag sny om te keer dat die kragnetwerk in duie stort. Dit beteken beurtkrag kan in sommige gebiede tot vier keer per dag vir twee en ’n half uur op ’n slag ingestel word.

Eskom se skuld beloop reeds meer as R450 miljard. Die staatsonderneming het onlangs aansoek gedoen vir ’n hersiening van kragtariewe, ’n stap wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) teenstaan. Die saak word vandeesweek in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor

Related Articles

Back to top button