Photo GalleriesSchool

Wiskunde slaagvereistes steeds dieselfde

Wiskunde slaagvereistes steeds dieselfde

Terwyl die regering vure doodslaan en ontken dat die minimum slaagvereistes vir wiskunde vir gr. 7 tot gr. 9 na 20% verlaag is, glo onderwysvakbonde dít is nie die grootste kommer wat dié sektor tans in die gesig staar nie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het Maandag gesê die departement se planne om leerlinge in die grondslagfase (gr. 1, gr. 2 en gr. 3) outomaties na die volgende graad te bevorder, behoort eerder ’n groter bron van kommer in onderwyskringe te wees.

Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), het dit ook duidelik gemaak dat die grootste vakbond in die sektor ook nie die outomatiese bevordering van sulke leerlinge steun nie.

Die vakbonde het gereageer nadat die departement van basiese onderwys Sondag gerugte op sosialemedia-platforms ten sterkste ontken het dat die minimum slaagvereiste vir wiskunde “verlaag is na 20%” vir die senior fase van gr. 7 tot gr. 9 en dit as “fopnuus” afgemaak.

Elijah Mhlanga, departementele woordvoerder, het Sondag in ’n verklaring gesê die gerugte spruit uit twee mediaberigte van 2016 wat albei verkeerd was.

“Die departement het die misverstand destyds opgeklaar nadat sommige mediaplatforms verkeerd daaroor berig het. Dit lyk asof die kwessie weer opgeduik het en as nuwe inligting op sosiale media gedeel is.”

Mhlanga sê daar is geen verandering aan die minimum slaagvereiste vir wiskunde in gr. 7, gr. 8, gr. 9, gr. 10, gr. 11 en gr. 12 nie.

Volgens hom het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, wel in 2016 ’n spesiale toegewing gemaak as deel van ’n oorgangsreëling ná die implementering van die nuwe Caps-kurrikulum in die senior fases.

“Eenvoudig gestel, was die toegewing net van toepassing op leerlinge van gr. 7 tot gr. 9 wat alle vereiste vakke, behalwe wiskunde, geslaag het om na die volgende graad bevorder te word. As sulke leerlinge bevorder is, sou hulle toegelaat word om wiskundige geletterdheid pleks van wiskunde te kies.”

Klopper het Maandag saamgestem dat daar ’n paar jaar gelede ’n spesiale toegewing gemaak is dat kandidate in die senior fase wat al hul vakke behalwe wiskunde geslaag het, bevorder kan word as hulle wiskunde met 20% geslaag het.

“Dit was egter nie ’n algemene bevordering nie. Daar was streng vereistes daaraan gekoppel.”

Ons standpunt is dat elke leerling op meriete bevorder moet word, behalwe as daar professionele bewyse verskaf word vir outomatiese bevordering met planne oor hoe so leerling verder ondersteun sal word.

Hy meen die SAOU is meer bekommerd oor planne om leerlinge in gr. 1 tot gr. 3 outomaties na die volgende graad oor te plaas. “Dit gaan uiteindelik tot ’n geweldige verlaging in standaarde lei.

“Gr. 4 het reeds ’n groot toename in die druipsyfer en bogenoemde gaan dit net vererger.”

Maluleke het Maandag die departement se jongste verduideliking oor die herrie oor die 20%-wiskundeslaagsyfer verwelkom.

“Dit is ongelukkig dat kwessies soos dié herhaal moet word nadat dit reeds vroeër deur die departement opgeklaar is. Ons moet nie van onderwys ’n politieke speelbal maak nie.”

Volgens Maluleke het Sadou reeds sy voorlegging oor die outomatiese bevordering van grondslagfase-leerlinge aan die departement voorgelê.

“Ons standpunt is dat elke leerling op meriete bevorder moet word, behalwe as daar professionele bewyse verskaf word vir outomatiese bevordering met planne oor hoe so leerling verder ondersteun sal word.” – SAUK

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button