
Parys – Polisie-duikers van Welkom sal môre (Sondag 29 Desember) vroeg die soektog hervat na twee mans wie se kano laat vanmiddag (Saterdag 28 Desember) in die Vaalrivier by die Mimosa Tuine omgeslaan het en hulle nie daarin kon slaag om uit die water te kom nie.

A.o. Jan le Roux en speur adjudant-offisier Rick Hunter (links en tweede van links) saam met Wynand Nel van We Care op die rivieroewer by die Mimosa Tuine waar daar Saterdagmiddag gesoek is na die twee mans.
Familielede wat ook langs die rivieroewer was, het dadelik hulp ontbied, maar teen skemer was daar steeds geen teken van die mans nie. Plaaslike polisielede sowel as lede van We Care was op die toneel.
Beide mans is na wat verneem is plaaslike inwoners.

Die tragedie volg enkele dae nadat duisende feesgangers juis hier by die Mimosa Tuine op die rivieroewer die Colour of Love Festival bygewoon het.
Vroeg in Desember het ‘n jong seun ook by die hangbrug verdrink.





