News

So vorder dorp se #ImStaying muurskildery

So vorder dorp se #ImStaying muurskildery

Dalk het jy die afgelope paar weke die gewerskaf regoor Namgola by die dorpsingang vanaf Sasolburg-kant gesien, en gewonder wat hier gebeur.
Die muurskildery vir die #ImStaying Parys-projek was die idee van kunstenaar Deon Terblanche om te wys dat baie Parysenaars ook die #ImStaying inisiatief ondersteun en eerder die positiewe wil uitlig.
Terblanche sê hy hoop dat die muur plaaslike inwoners elke dag sal aanspoor om positief te wees.
“Dit sal ook aan besoekers die boodskap oordra dat ons dorp positief is en graag wil saamwerk om ’n beter Suid-Afrika daar te stel.”
Die projek vorder goed, en is die muur nou reeds gepleister en met ‘n onderlaag behandel. Twee kante van die gebou sal gebruik word – die vooraansig (9 meter) en ’n korter sykant (5 meter).
Die muurskildery aan die sykant is reeds voltooi en beeld drie kinders uit wat opkyk na ‘n skare passasiersvliegtuie wat die land verlaat.
Op die vooraansig van die gebou gaan die die hutsmerk #ImStaying oor ongeveer 8m in die kleure van die landsvlag uitgebeeld word. Hierdie deel is nou bykans 80% voltooi en sal afgehandel word in ongeveer 3-5 dae sodra die muur weer uitgedroog het na die reën.
Positiwiteit in ’n land waar angs, geweld, ’n moeilike ekonomiese klimaat, lekkende staatskoffers en vallende publieke dienste seëvier, was juis die rede waarom Jarrette Petzer met die Facebook-groep #ImStaying begin het.
Op dié blad het hy redes begin aanvoer waarom mense in Suid-Afrika moet bly en die dinge wat Suid-Afrika uniek maak.
Die landwye groep het binne ’n maand meer as 400 000 lede gewerf. Dit blyk dat Suid-Afrikaners honger is vir goeie nuus!
TerBlanche het na aanleiding hiervan op Facebook gevra dat besighede wat wil saamwerk om die koste van die skildery te dra, hom moet kontak. Hy is oorval deur die positiewe gesindheid van Parys se besighede.

Related Articles

Back to top button