LetterOpinions

Kapitalistiese Kersfees

Kapitalistiese Kersfees

Dit voel of dit elke jaar erger raak. Daar is meer liggies buite, minder lig van binne, meer liefde vir speelgoed, elektronika en tegnologiese toestelle, minder liefde vir mekaar.

Vir die paar maande in die oploop tot Kersfees is daar ‘n astronomiese hoeveelheid items wat verbruikers kan koop. Kersfeestemas word reeds in Oktober opgerig, deuntjies word gespeel, bome word versier en gekoop en algehele uitspattigheid duur voort.

Die punt wat die samelewing mis, is dat geen hoeveelheid goedere en tierlantyntjies ons by die wortel van liefde sal bring nie. ‘n Eenmalige “dis nou Kersfees, kom ons is lief vir mekaar” net om op “Boxing Day” weer na ons ou gewoontes te gaan, help niemand nie.

Dit raak ‘n siklus van tydelike omgee en liefde, waar die hoeveelheid materialistiese items die waarde van liefde begin bepaal. Hoekom kan ons nie meer geld uit ons eie persoonlike hartsrekeninge trek en vir mekaar gee nie?

Nes jou kredietkaart vir jou die vryheid gee om heen en weer te “swipe” na hartelus in die Kersseisoen, kan mense dalk begin om eerder meer aandag aan mekaar se behoeftes te gee. Is ‘n drukkie en gesprek dalk nie net meer waardevol (en boonop verniet) nie? Ja, in die Kerstyd is daar juis tyd om vir ander te gee en na mekaar te luister, maar hoekom kan dit nie die hele jaar hou nie?

Ons bou tydelike goedvoel-oomblikke, eerder as sterk verhoudings. As daar 365 dae in ‘n jaar is, hoekom gee ons net meer oor die Desember tydperk vir mekaar om?
In ons land het ons ‘n elektrisiteitskrisis, maar liggies sal geskyn word, spandabelrigheid sal voortgaan. Die chaos van Black Friday en kapitalisme wat daaruit spruit is net nog ‘n foefie wat verbruikers hipnotiseer.

Kyk, ek sê nie dat dit verkeerd is om presente te koop en vir mense in die Kerstyd te gee nie, maar as dit meer uit ‘n tradisie as hartsbegeerte kom, dan is daar fout. Ek is bly ek het presente as kind enige tyd van die jaar gekry. Ek moes nie net vir twee tydperke (verjaarsdag en Kersfees) wag om iets te kry nie. Vir my was my familie en vriende se teenwoordigheid alreeds ‘n fantastiese geskenk.

Gaan uit en bedien die mense om jou wat liefde nodig het, eerder as om te betaal vir iets wat kunsmatig en selfsugtig is. Bestee eerder jou geld om mense te help hierdie Kersseisoen. As jy nie mense wil help nie, help dan die diere wat dit net so nodig het.

Die punt is, jy kan ‘n verskil maak en jou kers aansteek om ander sin te laat brand. So sal daar baie liggies deur die loop van die jaar sonder ophou skyn.
Wees ‘n seën en ‘n draer van Jesus Christus se lig in die donker vir mense 365 dae van die jaar.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button