NewsNews

Zelda se skrywerstalent ook met radiodrama bekroon

Zelda se skrywerstalent ook met radiodrama bekroon

Nie net is skrywer Zelda Bezuidenhout ewe bedrewe in die skryf van jeugromans as volwasse romans nie, maar het sy pas weer gewys hoeveel talent in haar skrywerspen is, toe sy beloon is met ‘n tweede plek in die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie.
Vir Zelda was dit ‘n eerste om ook haar hand aan die radiodrama-skryfkuns te waag. Die drama, “As ‘n kind kom kuier” , handel oor ‘n terminale kankerlyer en weduwee, Elna. Sy bly alleen in Northcliff. Een aand kry sy en haar versorger, Vanessa, besoek van “Dollar” – ‘n inbreker, wat aldrie karakters se lewens verander.
Zelda het die eerste keer as skrywer naam gemaak toe sy naaswenner was in die Lapa Jeugromankompetisie vir 2017, met haar eerste jeugroman, “As mens geluk kon proe”. ‘n Grootwordstorie wat jou ook die humor van tienerwees laat “proe”. Met deernis vat sy die uitdagings van tienerwees vas wanneer sy die storie van Arnelia vertel wat jou soms hardop wil laat lag.
Zelda was vroeër ‘n tweetalige kopieskrywer vir reklamemaatskappye in Johannesburg, waarvan sy die laaste 20 jaar hoofsaaklik vryskut gewerk het. Boekskryf was nie in haar beplanning nie, maar toe sy die geleentheid gekry het om ‘n Slypskool by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus by te woon, het sy besef daar is ‘n boek in haar. Die Slypskool was net die begin van haar jeugroman wat in ses weke geskryf is.
Daarna het nog ‘n jeugroman, “Die 6 weke van Thomas en Ella” gevolg en toe “Die Dekonstruksie van Retta Blom” waar sy vir die eerste keer met groot sukses ook die volwasse mark geteiken het. ‘n Ongelooflike roman wat jou dwing om weer “die naakte waarheid” in die oë te kyk wanneer jy gedwing word om verby die “volmaaktheid” van venstervertoon te kyk. Hoewel Zelda en haar gesin eers die afgelope net meer as vier jaar Parysenaars is, was die dorp al vir lank ‘n deel van hul lewe. voordat hulle uiteindelik Krugersdorp permanent vir Parys verruil het.

 

Related Articles

Back to top button