NewsNews

Nog ’n lastereis teen burgemeester: Totale bedrag van skadevergoeding nou R18 miljoen

MEYERTON. – Die burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, rdl. Bongani Baloyi, staar nou nie net een nie, maar twee lastereise in die gesig oor sy uitlatings. Dit bring die totale skadevergoeding wat van Baloyi geëis word, nou op R18 miljoen te staan. Vaalweekblad het vroeër berig dat die adjunk-munisipale bestuurder van die munisipaliteit, Thom …

Vaalweekblad het vroeër berig dat die adjunk-munisipale bestuurder van die munisipaliteit, Thom Peeters, ’n lastereis van R10 miljoen van rdl. Baloyi in sy persoonlike hoedanigheid, maar ook as burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, ingestel het nadat Baloyi glo in aanloop tot die nasionale verkiesing op verskeie platforms vir Peeters daarvan beskuldig het dat hy geld van mense geneem het in ruil vir munisipale betrekkings. Nou blyk dit of Amelia Tsukudu, geskorste burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, ook vir rdl. Baloyi hof toe wil sleep.
Vaalweekblad verneem dat Tsukudu se regsverteenwoordiger van Krishnee Pillay Prokureurs reeds op 19 September vanjaar ’n brief aan rdl. Baloyi gestuur het waarin hy gevra word om skadevergoeding van R8 miljoen binne ’n tydperk van 30 dae aan Tsukudu te betaal vir die uitlatings wat hy gemaak het.
Die brief is glo op 27 September deur rdl. Baloyi ontvang, maar hy het skynbaar nog nie daarop gereageer nie. Volgens die skrywe het rdl. Baloyi in
Februarie sekere lasterlike uitlatings ten opsigte van Tsukudu gemaak.
Hy het na bewering gesê dat Tsukudu korrup is en onregmatig geldelik gebaat het uit die sogenaamde “jobs for money”-skema waar mense glo geld betaal het in ruil vir munisipale betrekkings.
Volgens die skrywe het die burgemeester ook vir Tsukudu in ’n persverklaring beswadder deur te sê dat sy korrup is en by die sogenaamde skandaal betrokke was.
Volgens die skrywe is die stellings wat rdl. Baloyi gemaak het onwaar en ontbreek dit aan enige meriete. Daar is namens Tsukudu aangevoer dat Tsukudu weens Baloyi se lasterlike uitlatings as burgemeesterskomiteelid geskors is en gevolglik verliese gely het. Dit het glo haar reputasie, goeie naam en stand in die gemeenskap negatief beïnvloed en Tsukudu eis daarom skadevergoeding van R8 miljoen. Die uitlatings is glo gemaak ten spyte daarvan dat Tsukudu later deur die munisipaliteit se etiese komitee onskulduig bevind is. In ’n persverklaring wat op 27 Maart vanjaar uitgereik is, het die munisipaliteit te kenne gegee dat Tsukudu se skorsing opgehef is en dat sy as lid van die burgemeesterskomitee heraangestel is. Sy word in die verklaring geloof vir haar “vertoning van goeie leierskap” deur vrywilliglik haar pos te verlaat, hangende die ondersoek. ’n Herrie het onlangs losgebars nadat dit aan die lig gekom het dat die munisipaliteit vroeër vanjaar tydens ’n raadsvergadering besluit het dat R500 000 opsy gesit sal
word vir rdl. Baloyi se regskostes.
Die munisipaliteit se woordvoerder, Simon Ratlhagane het dit ontken, maar nooit ’n verklaring oor die aangeleentheid uitgereik nie. Ratlhagane het by navraag ook ontken dat hy kennis dra van die nuutste lastereis. Die Vryheidsfront Plus het in ’n verklaring gesê hy verwelkom ʼn ondersoek na
beweerde ongerymdhede in die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, nadat Peeters ‘n lastersaak teen die burgemeester aanhangig gemaak het. ‘n Groep munisipale amptenare het ook nou na vore gekom om sekere bekentenisse oor die bewerings te maak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button