‘n Man wat van strafbare manslag en dronkbestuur aangekla word na ‘n ongeluk waarin twee jong mans dood is, was vandag (2 Desember) wéér in die hof in Potchefstroom. Dié saak is al verskeie kere uitgestel en die ouers van die twee seuns sê hulle geduld is besig om op te raak.
Die saak teen Petrus Borstlap, is nou na 28 Januarie 2020 vir verdere ondersoek uitgestel.
Die ongeluk het Donderdag, 15 Augustus in Govan Mbeki-rylaan naby die gholfbaan in Potchefstroom plaasgevind.
Die twee vriende Kobus Huyser (28) en Neil Grobler (19) is saam in die ongeluk dood.
Danie Huyser en Joggie Grobler, die jong mans se pa’s is beide ontevrede met hoe die saak tot dusvêr hanteer is.





