News

‘Die Here het my pad vir my uitgelê’

‘Die Here het my pad vir my uitgelê’

“Ek glo die Here het my op hierdie pad gesit om my by die eindbestemming te bring.”
So gesels mev. Sonja Beyleveld wat op 4 Desember vir oulaas haar klaskamerdeur agter haar sal toetrek. Na 15 jaar by Parys Primêre skool is daar nou nuwe deure wat vir haar oopgemaak word.
Sy gaan pastorale berading studeer – ‘n passie wat sy selfs in haar 30 jaar onderwysloopbaan elke dag geleef het. Sonja is destyds by die LSEN-klasse aangestel nadat sy vroeër die Sonstraaltjie-kleuterskool in die dorp gehad het. Naas die besondere taak wat sy gehad het om elke kind wat in haar klas was te vorm, het sy toe sy in Parys begin skoolhou het, ‘n selfs nog groter taak gekry wat onvoorsiens oor haar pad gekom het. ‘n Projek wat stil-stil by die skool gekoördineer word om te voorsien in die daaglikse nood van nagenoeg 100 gesinne.
Gesinne na wie se kinders hier met groot omgee uitgereik word om seker te maak dat hul versorg is. Sy vertel dat twee vroue van Parys, Sonja van Rhyn en Freda Botha destyds begin het om uit te reik na die LSEN kinders met sop in die wintermaande, ‘n broodjietafel, en te help waar ook al daar kinders was met nood.

Die gesig van blikkies en pakkies kos wat versprei word na waar nood is, was oor jare geen ongewone gesig in mev. Sonja Beyleveld se klas nie. En so was dit ook op die laaste skooldag vanjaar. Vir 15 jaar was sy die skakel van omgee tussen hulle wat gegee het en kinders met nood. Foto: Liezl Scheepers

Later het Christelle Kriel die omgeetaak oorgeneem saam met talle ander mammas wat as die Ma’s wat Omgee-groep seker gemaak het dat geen kind by die skool sou honger wees nie.
Toe Christelle verhuis het, het Nicolien Meyer en die mammas wat omgee, voortgegaan om te voorsien in skryfbehoeftes en toiletware vir kinders wat nie het nie. Soos wat die nood raakgesien is, is gehelp en was Sonja deurentyd die skakel tussen hulle wat omgee en hulle wat gehelp kon word.
Die projek het oor die jare gegroei en sorg ‘n anonieme Duitse maatskappy vir ‘n bord warm kos, ‘n vrug, lekkergoedjie, koeldrank of melk elke dag vir 121 behoeftige kinders van die skool. Ook die Hervormde Kerk help steeds elke dag met broodjies vir eerste pouse vir hulle wat nie het nie, en selfs dié wat dalk sou vergeet het om ‘n kosblikkie te bring. So bly die magies vol. Vakansietye kan daar danksy die Chris en Susan Prinsloo Trust en met skenkings uit die gemeenskap, kospakkies na die gesinne van hierdie kinders gestuur word om in moeilike tye te oorleef.
Ses kinders van Parys word ook danksy die trust gehelp met hul vervoerkoste na die Fakkel Skool in Sasolburg.
Daar is baie hartseer, baie nood – maatskaplik en emosioneel, wat onderwysers daagliks in klaskamers sien. So het Sonja dikwels tot die besef gekom dat sy nie die professionele kennis het om oral te kon help waar sy van nood gehoor het nie.
Hulp het sy gekry waar moontlik, geluister waar sy kon, gehelp dat die magies vol gehou en daar klere was om aan te trek. Skryfbehoeftes in die tasse waar daar nie was nie. Maar nou het die Here vir haar ‘n groter roeping gegee.
Haar jare se ervaring met kinders met spesiale behoeftes, haar deernis en omgee vir meer as net dit wat in boeke geleer kon word, het van Sonja iemand met ‘n besondere plek by Parys Primêr gemaak.
Sonja en haar man, Henk, wat gesondheidsinspekteur vir departement gesondheid is, is die afgelope 34 jaar in Parys gevestig nadat hulle van Bloubergstrand na die dorp verhuis het. Hulle sal in Parys aanbly.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button