NewsNews

Na 48 jaar groet NG Sonlandpark met laaste erediens

Na 48 jaar groet NG Sonlandpark met laaste erediens

Die gemeente het die plaaslike gemeenskap 48 jaar getrou gedien. NG Gemeente Sonlandpark, wat in 1971 gestig is en deesdae as die Lux Deo Sonlandpark bekend staan, was deur die jare besonder aktief en het op verskeie maniere ‘n positiewe impak in die gemeenskap gehad. “Hierdie pad was besaai met geleenthede waar die grootste nood omgedraai is in ‘n leergeleentheid en soveel mense hul gawes en talente kon gebruik om vir mekaar te leef,” sê mnr. Ampie Cilliers, finansiële bestuurder van Lux Deo Sonlandparksentrum. Daar was deur die jare 12 leraars van wie ‘n hele paar die laaste erediens op 24 November gaan kom bywoon. Die gemeente was egter die afgelope jare sonder ‘n voltydse predikant, waar talentvolle en geseënde lidmate met deursettingsvermoë en harde werk voortgegaan het om die gemeente self aan die lewe te hou. Die omstandighede binne die gemeentegrense, die dorp en die Vaaldriehoek het die afgelope jare soveel verander dat die gemeente met moeite voortbestaan het. Jonger lidmate het die bedieningsarea verlaat en baie van die ouer garde is mettertyd oorlede of het verhuis om by hul kinders te gaan woon. Sowat twee jaar gelede het die gemeente besluit om sekere aanpassings te oorweeg, soos om die kerkgebou te verkoop.

“Die leisels word nou oorgegee aan ‘n ander kerklike denominasie wat die behoeftes van die veranderende plaaslike gemeenskap nou beter sal kan bedien en ‘n ondersteuning vir die inwoners van Sonlandpark sal bly,” sê mnr. Cilliers.

“Die lidmate kan voorwaar getuig dat hierdie ‘n gemeente was wat baie afhanklik was van die hulp van Bo en die oop harte van sy lidmate. Hulle het en sal voortgaan om van hierdie wonderdade te getuig in die wêreld waarbinne hulle nou leef en waar hulle hulself na die afsluiting sal bevind.” Die gemeentelede se diens op verskeie terreine sal sekerlik nog lank onthou word, soos die eetstalletjie wat vir 12 jaar ‘n bekende en gesogde plek by die jaarlikse Vaalskou was. Opwindende projekte, konserte en saamwerkgeleenthede is ook deur die jare deur toegewyde lidmate en leraars gereël. NG Sonlandpark se jeug kan getuig van uitreike na Namibië waar hulle gehelp het om ‘n kerk te bou met staal wat deur ‘n Vaaldriehoekse onderneming verskaf is, en verskeie fietstoere het ook na omtrent elke provinsie in die land plaasgevind. Die geriewe in Sonlandpark is vir etlike jare as die plaaslike babakliniek en spreekkamer benut. Die gemeenskapsbiblioteek bly deel van die kerk en die nuwe gemeente is baie opgewonde oor die moontlikhede wat deur dié fasiliteit geskep word. “Soveel sake het met die oorgee aan die nuwe denominasie net in plek geval en nou is dit tyd om aan te skuif en te gaan uitleef wat ons van mekaar, onder die leiding van die Heilige Gees, geleer en beleef het,” sê mnr. Cilliers. Alle lidmate, oudlidmate en ander belangstellendes is welkom om die laaste
erediens om 09:00 op 24 November in die kerkgebou in Waterbergstraat 29, Sonlandpark by te woon. Die gemeente se bestuurspan beskou die afsluiting as ‘n danksegging waartydens alle betrokkenes sal kan terugkyk na 48 jaar van seën. Nadere besonderhede is beskikbaar by 082 551 1057.

Die kerkgebou in Waterbergstraat, Sonlandpark, wat nou deur ‘n ander kerklike denominasie oorgeneem word.

 

Related Articles

Back to top button