NewsNews

Vrae oor kontrak

Ngwathe munisipaliteit het ‘n kontrak onderteken om peutervrye elektriese kragmeters oftewel die sogenaamde smart meter binne die volgende weke te begin installeer.

Ngwathe munisipaliteit het ‘n kontrak onderteken om peutervrye elektriese kragmeters oftewel die sogenaamde smart meter binne die volgende weke te begin installeer.
“Teen die einde van die eerste fase (einde November) sal 1 540 konvensionele meters in Parys, Tumahole en Heilbron reeds vervang wees.” Só het burgemeester Joey Mochela verlede Vrydag tydens ‘n raadsvergadering in Koppies gesê.
Die kontrakteur, Edison Power Group, se verteenwoordiger het daarna die voordele van die nuwe meters kortliks uiteengesit. Volgens die aannames wat hy voorgelê het sal die eerste 1 540 nuwe meters Ngwathe se kontantvloei uit kragverkope met minstens R6 miljoen per maand verhoog. Die verhoging sal, so is beweer, Ngwathe dan in staat stel om sy maandelikse Eskom-rekening ten volle te vereffen – iets wat tans nie gebeur nie.
Dit blyk dat die Raad nie vooraf ingelig is oor die kontrak nie, mededingende tenders is nie aangevra nie, en die Raad het die kontrak nie goedgekeur voordat dit deur die munisipale bestuurder onderteken is nie.
DA-koukusleier Arnold Schoonwinkel het gesê die “verbasende aankondiging” laat talle vrae ontstaan. Hy wou weet wat die totale kontrakbedrag is en wat die koste per meter is. Hy het ook gevra waarom oorbrugte meters nie onmiddellik teen min koste herstel word nie, “eerder as om te begin met duur nuwe vervangings van bestaande meters wat grootliks funksioneel is.” Hy wou weet waarom die Raad in die duister gehou is, en waarom die kontrak inderhaas en op ’n ondeursigtige manier deur die munisipale bestuurder onderteken is.
Ook rdl. Phillip van der Merwe (VF+) het die syfers wat voorgelê is as misleidend bestempel. Hy het daarna die foute uitgelig en verduidelik.
“Ek betwyfel sterk dat die inkomste genoeg sal toeneem sodat die munisipaliteit Eskom weer maandeliks sal kan betaal.” Nogtans het hy die beskikbaarstelling van R5 miljoen deur die Vrystaat provinsie vir die projek verwelkom.
“Peutervrye “slim” meters sal waarskynlik uiteindelik die enigste metode wees waardeur Ngwathe se kragdiefstalprobleem opgelos sal kan word, reken hy.
“Die probleem moet egter globaal aangespreek word en nie stuksgewys nie,” voeg hy by.
Die burgemeester het die vrae van die opposisie as billik beskryf. Sy het beloof dit sal ten volle beantwoord word op ’n spesiale sitting van die spesiale taakspan oor Eskom wat sy dringend sou reël.
Intussen duur grootskaalse kragdiefstal regdeur Ngwathe voort. Raadslede is reeds voorverlede maand ingelig dat kragdiefstal onlangs “soos ‘n veldbrand” begin versprei het, veral in Tumahole, en dat in sommige gebiede minder as 10% van verbruikers wettig krag koop. “Hierdie probleem word hoegenaamd nie dringend genoeg bestry nie,” sê Schoonwinkel.
“Krag is verlede week steeds onwettig op Ngwathe se rekening gekoop deur mense wat dit dan straffeloos en onbelemmerd herverkoop,” sê hy.
Hy sê die munisipale bestuurder het eers verlede Vrydag Eskom formeel opdrag gegee om Ngwathe se aankoopkode te wysig om hierdie misdaad te voorkom.
Ngwathe verloor tans minstens R6 miljoen per maand op sy kragverkope.

Related Articles

Back to top button