News

‘Chris van Midvaal’ lewe nou die Amerikaanse droom

VANDERBIJLPARK. – Al woon die voormalige Suid-Afrikaanse en Wêreldbokskampioen, Chris van Heerden (32), nou in Los Angeles en skuur hy gereeld skouers met die room van Hollywood, bly hy in sy hart steeds “Chris van die Vaaldriehoek.”

Die kampioenbokser was verlede week in Suid-Afrika vir die troue van sy tweede jongste suster, Bianca, en het in openhartige onderhoud met Vaalweekblad gesels oor sy nuutgevonde sterstatus in die VSA, sy nuwe liefde, opkomende boksgevegte, die realiteitsreeks waaraan hy werk en braaivleis.

Boks en die Amerikaanse Droom

Chris het op Kersdag in 2013 oor die waters gereis om sy heil in die VSA te gaan soek. Hy vertel dat hy na Los Angeles is met geen idee wat op hom wag nie.
Die pad was nie altyd maklik nie, maar tog het Chris al die uitdagings wat die lewe na sy kant gebring het, trotseer. “Ek het oorgegaan as wêreldkampioen. Binne die eerste vier maande het ek my wêreldtitel verloor as gevolg van politiek,” vertel Chris.
“Ek het geweet ek moet net weer terug in gym kom, hard werk en dan sal oë my raaksien.
“Mense het begin sien wie ek is. Hulle het gesien hierdie mannetjie kan baklei en binne ses maande het die Amerikaanse boksafrigter, Freddie Roach, my ontdek.”
Met Roach as sy afrigter het deure toe vir Chris begin oopgegaan. Hy het deur Roach talle bokslegendes soos Manny Pacquiao, Miguel Cotto en Canelo Álvarez ontmoet en saam met hulle gewerk.
In 2015 is Chris uitgenooi om in Madison Square Garden te veg waar hy die IBF-interkontinentale titel verower het.Dit was ook dieselfde jaar wat hy teen Errol Spence jr. (tans die IBF en WBC wêreld-welterwigkampioen) verloor het.
Intussen het Top Rank Boxing een van die grootste bokspromosiemaatskappye in die wêreld ’n kontrak met Chris geteken.
Vanjaar het hy twee groot gevegte gehad, die een teen Mahonri Montes van Mexiko en die ander teen Aslanbek Kozaev van Rusland. Hy het albei gevegte gewen, wat gehelp het om hom onder die top 20 op die wêreldranglys te plaas. Chris se volgende geveg is in Februarie volgende jaar. Hoewel sy bestuurder nog besig is om die geveg te beding, hoop Chris dat dit ’n uitskakelmet ronde vir die wêreldtitel sal wees. Hy mik na die nommer 1 plek in die wêreld.
Hy oefen tussen vyf en ses ure per dag om hom vir die geveg voor te berei en volg ’n streng dieet.

Die lewe in Hollywood

Danksy Chris se prestasies in die bokskryt en sy opregte en spontane persoonlikheid, was hy baie bevoorreg om talle bekendes te ontmoet en skouers te skuur met die room van Hollywood. “Mense kom oor die weg met my want ek is real,” vertel hy.
“Ben Affleck date nou my vorige girl (die sangeres Katie Cherry),” vertel hy trots.
Chris het ook al die geleentheid gehad om ’n paar keer saam met die SA-gebore aktrise, Charlize Theron uit te hang waar hulle Afrikaans met mekaar gepraat het.
“Sy het ’n vuil mond aan haar. Vloek ongelooflik baie,” grap Chris oor sy mede-Suid-Afrikaner. Dan sien hy ook gereeld vir Sam Rockwell, Mel Gibson en ander bekendes in Hollywood.
“Ek is bevoorreg om vriende te wees met baie bekende mense. Ek bly nou net so ‘n bietjie meer as vyf jaar in Santa Monica in Los Angeles,” sê hy.

Realiteitsreeks

Buiten Chris se voorbereiding vir sy opkomende boksgevegte, is hy ook kliphard besig om te werk aan ’n nuwe realiteitsreeks genaamd Fight to Fame,
wat wêreldwye mededingers ’n eens in ‘n leeftyd-geleentheid bied om ontdek te word en in die internasionale kryt mee te ding. Die doel van die reeks is om ongeslypte talent van regoor die wêreld te ontgin en talentvolle vegters te help ontwikkel. Chris is in die reeks die ambassadeur vir Afrika. “Ek wil graag ons talent wat ons hier in Suid-Afrika het afshow vir die hele wêreld om te sien,” vertel hy.
Biografiese film

Volgens Chris is hy tans in samesprekings met filmmaker Danie Bester en vervaardiger Asgar Mahomed oor ’n boksfilm oor sy lewe.

Makadamianeut-stafie

Chris vertel dat hy ook saam met Brandon Hiemstra, ’n plaaslike entrepreneur, Suid-Afrikaans vervaardigde makadamianeut-produkte in die buiteland bemark. “Die produkte, makadamianeutenergiestafies en makadamianeut-melk, word plaaslik vervaardig en op die
Amerikaanse mark verkoop. “Ons help die plaaslike boere in Suid-Afrika. Danksy die wisselkoers kan ons dit vir veel goedkoper na Amerika uitvoer en op die Amerikaanse mark verkoop,” vertel hy.

Suid-Afrika, biltong en braaivleis

Chris vertel dat hy in Suid-Afrika was om die wêreldbeker-eindstryd te kyk. Hy sê hy mis die land, die mense, biltong en veral braaivleis. “Ek het alle rede om hierdie plek te haat. Ek het my pa sowat ’n jaar gelede verloor (toe hy geskiet is). “Maar vir die eerste keer in vyf jaar het ek teruggekom en ’n verskil gesien. Ek sien dit raak want ek is nie heeltyd hier nie. “Ja, dit gaan nie so goed met die misdaadsituasie en met die rand nie, maar ek kyk na ons strate en ek sien ’n mooi Suid-Afrika. En dit maak my bly,” vertel hy.

Rolmodel

Chris besef dat hy as bokser op die internasionale verhoog ’n inspirasie en voorbeeld vir talle Suid-Afrikaanse jongmense is. “Kinders het vandag nie
meer rolmodelle nie. Hulle het niemand om na op te kyk nie. “Ek het vir myself gesê ek wil daai ou wees wat mense hoop gee. Ek wil daai ou wees wat in Madison Square Garden baklei. Ek wil daai ou wees wat die res van Suid-Afrika 04:00 in die oggend laat opstaan om Chris van Heerden in die bokskryt te sien veg.
“Ek wil vir mense wys dat, al kom ons van Suid-Afrika (of van die Vaaldriehoek) af, ons onder die bestes in die wêreld kan wees. “Ek lewe nou die droom. Ek moes hard gewerk het vir my droom en ek moes glo.
“My boodskap aan die publiek is dat jy kan bereik wat jy wil, maar jy moet glo dat jy in staat is om jou droom te verwesenlik,” sê hy.

Related Articles

Back to top button