News

Inwoners gekant teen groot steenkoolmynontwikkeling

Inwoners gekant teen groot steenkoolmynontwikkeling

’n Maatskappy genaamd Glubay Coal (Edms.) Bpk. het reeds ’n aansoek by die departement van minerale hulpbronne ingedien om steenkool op die plase Kookfontein, Damfontein, Smaldeel, Waldrift en Vlakfontein te myn. Die myn sal ’n oppervlak van 2 547 hektaar beslaan en oor verskeie plase, kleinhoewes en selfs ’n natuurreservaat – die Waldrift-natuurreservaat, strek. Die Springfield-oopgroefmyn, soos die voorgestelde oopgroefmyn bekend sal staan, sal glo ook aan ’n begraafplaas, steenmakery en vliegveld grens.
Dit sal feitlik teenaan woongebiede soos Rus-ter-Vaal, Roshnee, Waldrift, sowel as Risiville, Arcon Park, Sonlandpark, Falcon Ridge en Springcol grens indien dit goedgekeur word. Die beoogde myn is geleë op die perseel van die verlate Springfield Steenkoolmyn, waar daar voorheen gemyn is. Die ligging is sowat 7km suid van Meyerton en 10km noord van Vereeniging en dus gedeeltelik binne die Emfuleni Plaaslike Munisiplaliteit en
Midvaal Plaaslike Munisipaliteit.
Volgens Yusuf Sather, ’n inwoner van Roshnee en ’n woordvoerder vir The Coal Objection and Liasson Committee (Coal Committee) wat gestig is om mynboubedrywighede te probeer stuit, is inwoners bekommerd oor die gevolge wat mynboubedrywighede vir inwoners en die natuur inhou. Inwoners is veral bekommerd oor die gesondheidsrisiko wat die inaseming van steenkool-stof inhou, chroniese longsiektes wat kan lei tot verminderde
lewensverwagting, die besoedeling van waterbronne in die omgewing en plofstofskietery wat nabygeleë huise kan beskadig.
Dit is om nie eers te praat van wat die toename in swaarvragmotor-verkeer op die bestaande infrastruktuur sal hê nie. ’n Petisie wat van stapel gestuur is om die myn te probeer stuit is reeds deur duisende mense onderteken.
Volgens dokumente in Vaalweekblad se besit is Glubay Coal, wat die aansoek ingedien het, ’n filiaal van Canyon Resources, ’n mynbou en  prospekteringsmaatskappy met bedrywighede in Mpumlanga en Gauteng.
Volgens dokumente het die maatskappy vyf operasionele steenkoolmyne; Hakhano en Singani in die Middelburg-omgewing, Phalanndwa en Phalanndwa Uitbreiding in die Delmas-omgewing en Khanye Colliery naby Bronkhorstspruit. Wat inwoners verder grief is dat twee van die maatskappy se Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) aandeelhouers volgens die maatskappy se webwerf voorheen vir die departement van minerale hulpbronne gewerk het. Rudzani Mudogwa het volgens die maatskappy se amptelike webwerf vanaf 2006 tot 2011 vir dié departement
“in die veld van omgewingsbestuur” gewerk en Pandelani Mugudamani was volgens die webwerf ’n assistent-direkteur van die departement van minerale hulpbronne voordat hy ’n omgewingsbeampte vir die departement van minerale en energie geword het. Inwoners vrees dat die
myn hul verbintenis met die departement van minerale hulpbronne sal gebruik om teenkanting uit die weg te stoomroller.
Melding word in die verslag gemaak van Steenkool wat steeds voorkeur kry waar dit by die opwekking van krag in Suid-Afrika kom en dat die situasie nie in die voorsienbare toekoms gou sal verander nie.
Uit dokumente blyk dit of Glubay Coal ’n beraamde 266 miljoen ton steenkool wil ontgin wat op plaaslike en ‘oorsese’ markte verkoop sal word. Dit blyk uit die verslag ook of van die steenkool aan die Lethabo en Grootvleikragstasies voorsien sal word.
“Produksie sal met ongeveer 100 000 ton per maand begin en sal dan vermeerder word tot ’n gemiddeld van 600 000 ton per maand.
Die beoogde leeftyd van die myn is volgens die verslag 31 jaar en daar sal na raming 300 werksgeleenthede in dié tydperk geskep word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button