News

Jetskiër tref tak

SASOLBURG. – ’n 23-jarige man van Vereeniging is Saterdag op die Vaalrivier beseer toe hy met sy jetski in ’n tak wat oor die rivier gehang het, vasgery het. Ryno van Biljon, ’n logistieke beampte by Conframat Bricks in Vanderbijlpark, was saam met vriende by ‘n partytjie naby Sasolburg. “Ons het besluit om vroegmiddag te gaan jetski ry voor die …

Ryno van Biljon, ’n logistieke beampte by Conframat Bricks in Vanderbijlpark, was saam met vriende by ‘n partytjie naby Sasolburg. “Ons het besluit om vroegmiddag te gaan jetski ry voor die weer opsteek. “Ek het in ’n stadium gesukkel om die jetski te draai en het redelik naby aan die oewer gery.
“Toe ek weer sien was daar ’n klein takkie voor my. Voor ek my kon kry, kon ek voel hoe ’n ander tak my in die gesig tref,” vertel hy.
Ryno, wat sy kop hard tydens die voorval gestamp het, sê hy kan nie veel onthou van wat daarna gebeur het nie. Volgens Marius Venter, bestuurder van die Vaal Emergency Ambulansdiens wat by die toneel bystand gebied het, het Ryno snyplekke opgedoen toe die tak hom onder sy ken gekrap het.
Volgens Marius blyk dit ook of Ryno toe agteroorgeslaan het en sy kop gestamp het. Ryno is eers na die Metsimaholo-hospitaal in Sasolburg geneem, maar later na Vaalpark-hospitaal oorgeplaas toe dit aan die lig kom dat hy ’n mediese fonds het.
Hier is hy vir die oop wond aan sy ken behandel en moes steke kry. Later is daar vasgestel dat Ryno ’n nekbesering en ’n fraktuur van ’n laerugwerwel opgedoen het.

Hy is daarna na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas, waar hy tans behandeling ontvang. Ryno het Maandag, 28 Oktober aan Vaalweekblad gesê dat dit met hom goed gaan, maar dat hy nog baie styf is. Daar was sprake dat hy binnekort ontslaan sal word.

Related Articles

Back to top button