Die Vaaldam se watervlak het die afgelope week vir die eerste keer in drie jaar onder die vlak van 50% gedaal. Volgens Rand Water was die vlak op Maandag, 21 Oktober, 49,64%. Volgens Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, was die Vaaldam verlede jaar hierdie tyd nog 86.6% vol. Volgens die departement van water en sanitasie speel die huidige hittegolf en lae reënval in die dam se opvangsgebied ‘n rol in die lae damvlak, wat nou vir die eerste keer sedert 2016 onder die halfpadmerk lê. Inwoners van Gauteng word deur die departement gemaan om water spaarsaam te gebruik, veral omdat die Vaaldam vanaf 1 Oktober tot 30 November weens noodsaaklike werk aan die Lesotho-Hooglandtonnel, nie soos normaalweg deur dié stelsel gevoed gaan word nie. Die Katsedam in Lesotho, wat deel van die Hooglandwaterskema vorm, se vlak lê tans ook op ‘n skrale 13,7%. Hoewel waterbeperkings in die Vaaldriehoek tans nog nie oorweeg word nie, beveel die departement van water en sanitasie aan dat verbruikers baie oordeelkundig met water moet werk en dit nie moet verkwis nie. * Vaalweekblad ontvang steeds gereeld klagtes van inwoners dat skoon drinkwater vrylik uit stukkende pype en ander lekke in woonbuurte stroom. In Komatierivierstraat, SE4, Vanderbijlpark, stroom skoon water reeds etlike weke deur die strate en in sommige gevalle is inwoners se erwe al so oorstroom dat dit ‘n modderpappery is wat dreig om die betonmure om hul erwe te laat kantel. Hoewel die inwoners dit reeds by Metsi-a-Lekoa aangemeld het, het Vaalweekblad hul klagtes die afgelope week weer onder die aandag van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gebring.
You can read the full story on our App. Download it here.