Skool dankaar vir ouers se ondersteuning
Amy’Leigh de Jager. VANDERBIJLPARK. – Die onlangse ontvoering van Amy’Leigh de Jager (6), ‘n leerling aan die Laerskool Kollegepark, asook die betrokkenheid van een van die onderwyseresse, Tharina Human by die ontvoering, was vir die gemeenskap, die skool en ook vir die personeel ‘n groot skok. “Die was ‘n groot ontnugtering. Ons kan nogtans getuig van God wat gebede verhoor. ‘n Skool, ‘n ouerkorps, …
VANDERBIJLPARK. – Die onlangse ontvoering van Amy’Leigh de Jager (6), ‘n leerling aan die Laerskool Kollegepark, asook die betrokkenheid van een van die onderwyseresse, Tharina Human by die ontvoering, was vir die gemeenskap, die skool en ook vir die personeel ‘n groot skok.
“Die was ‘n groot ontnugtering. Ons kan nogtans getuig van God wat gebede verhoor. ‘n Skool, ‘n ouerkorps, ‘n gemeenskap en land het saam gebid dat die ontvoerders vir Amy’Leigh ongedeerd aan haar ouers sal terugbesorg. Ons Almagtige Heer het ons smeekgebede verhoor,” sê ‘n woordvoerder van die skool in ‘n skrywe aan Vaalweekblad.
“Ons is baie dankbaar dat Amy’Leigh veilig terug is by haar gesin en reeds terug is by die skool.”
Haar maatjies en juffrou was verheug en het haar glo met ope arms en dankbare harte terug verwelkom. Die Laerskool Kollegepark wil van die
geleentheid gebruik maak om vir elke ouer wat die skool in hierdie tyd ondersteun en steeds bemoedigende woorde aan die skool stuur, opreg te bedank. Ons waardeer hierdie positiewe gesindheid van die ouers.
Die gerugte wat die rondte doen dat ouers hul kinders uit Kollegepark haal en na anders skole neem, word as totaal onwaar deur die skool bestempel.
“Danksy ons ouers se positiewe betrokkenheid by die skool kan ons wel getuig dat ons nuwe leerders ingeskryf het.
“Ons sal bly voortbou op ons positiewe beeld en die wete dat ons skool ‘n veilige en geborge omgewing handhaaf waarbinne elke leerder hom of haarself ten volle kan uitleef.”