‘n Soliede bronsplaat – dalk nie veel werd vir die een wat dit weggedra het of die skroothandelaar wat dit waarskynlik gekoop het nie. Maar dié plaat wat vanoggend (Woensdag 30 Oktober) eenvoudig van die mure van die museum verwyder is, was deel van die dorp se geskiedenis.


Iets wat nooit weer vervang kan word nie, want met hierdie plaat is die Parys-museumgebou in 1984 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Dalk het jy dit nie raakgesien waar dit net regs van die museumdeur vasgesit was nie, maar toe daar twee weke gelede ‘n visuele uitstalling van die Vredefort Koepel by die Parys-museum geopen is wat vir die eerste keer ‘n volledige en wetenskaplike uiteensetting gee van een van die wêreld se oudste en grootste meteoriet impakkraters, is die plaat spesifiek deur gaste opgemerk.
Die naweek was die bronsplaat nog daar. Nou is dit net die sement teen die muur wat die stille getuienis is van wat misdaad aan ‘n dorp doen waar koper en brons items daagliks by huise en besighede weggedra word. Baie daarvan van groot sentimentele waarde. Tog kom hierdie misdadigers en dié wat dit koop daarmee weg.
Gazette het ook onlangs berig van die staalstawe by die hangbrug – een van die dorp se grootste toerisme aantreklikhede, wat ook gesteel en aan ‘n skroothandelaar verkoop is.
Hiermee dan ‘n ernstige beroep op die gemeenskap en veral handelaars om bedag te wees op goedere soos die museum se bronsplaat wat geloop en smous word.
Meer oor die museum:
Die gemeenskap van Parys wou hul erfenis bewaar en so het die gedagte aan ‘n museum vir die dorp in 1973 ontstaan. Maar eers drie jaar later is daar begin om items vir die museum te versamel en is die ou landdroskantoor wat in 1904 opgerig is, voorlopig as museum ingerig.
In die vroeë tagtigerjare is die museum geopen en kort daarna, in 1984, tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die museum het toe nog onder die bestuur van die Vrystaatse Museumdiens geval en het burgemeester JJ Danhauser die museum in die laat tagtigerjare formeel geopen. Die gebou is deur die argiteksfirma Gordon, Verhoef en Krause gerestoureer.
Die gebou het egter later so agteruitgegaan dat dit gesluit moes word omdat daar nie meer fondse was vir instandhouding nie.
Danksy Iris Andrew se jarelange toewyding en ongelooflike deursettingsvermoë waarmee sy nooit tou opgegooi het nie, is die museum later weer heropen en met tye oopgestel vir die publiek. Sy het sedertdien afgetree, maar volg Iris se dogter Diane in haar spore met dieselfde toewyding om saam met vrywilligers uit die gemeenskap hierdie erfenisjuweel te bewaar en met besoekers aan die dorp te deel.




