News

Bokse vir boervroue in nood – jy kan nog vandag help

Mense gee in oorvloed!

Liezl Scheepers
“Ons kan beswaarlik meer beweeg.” Dit was die woorde van personeel by die afsetpunte in Parys vir die “Boks vir ‘n boervrou in droogtegebied” projek nadat Parysenaars en ook mense van buite die dorp in oorvloed uitgereik het na hulle in die droogste dele van ons land.
Volgens Rose van der Westhuizen en Gerda Small wat hul persele oopgestel het om die bokse te ontvang, stroom die bokse nog sonder ophou in en is dit eenvoudig té veel om te tel.
Daar word geraam dat daar reeds ver meer as 1 200 bokse teen Maandag ontvang is sedert Parysenaars twee weke gelede gevra is om die projek te ondersteun.
As jy nog wil deelneem aan die projek moet jy gou spring en vandag nog jou boks vir ‘n boervrou in nood inhandig by
Mirabel Gastehuis in De Villiersstraat, of by Gerda Small Prokureurs in Waterstraat 22 Parys. Van die bokse is intussen reeds geskuif na Valtrac se kantoor in Parys wat die bokse sal vervoer.
Wat behels die projek?
VLV (Vroue Landbou Vereniging) Wellington Sirkel Paarl het begin met ‘n projek om voor Kersfees vir elke boervrou in droogtegeteisterde dorpe in ons land ‘n bietjie hoop te gee met die projek, genaamd, “Boks vir ‘n boervrou in droogtegebied”.
Jy kan ‘n skoenboks of soortgelyke grootte boks vul met nie-bederfbare eetgoed, speserye, hawermout, wasmiddels, dettol, selfs lekker koffie of kondensmelk, badkameritems of wat ookal jou hart voel om in die boks te sit. Enigiets. Wat ookal jou sak pas. Jy kan dit self doen, of saam met ander, as groepe, kerke, skole of organisasies. Die bokse word toegedraai in koerantpapier of bruinpapier met ‘n mooi lint om en gestuur na VLV Wellington. Die vroue sal dan seker maak dat die bokse saam met ‘n vrag voer gestuur word na die gebiede waar die nood die hoogste is.
Die projek eindig einde Oktober.
Vir die VLV is dit deel van hul gemeenskapsuitreik. Vir my en jou ‘n manier om dankie te sê vir wat ons het en uit te reik na hulle wat werklik nou nood ervaar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button