News

Puk-student doodgeskok

Puk-student doodgeskok

Arno Hollander (23), ‘n finalejaar Puk-student in aptekerswese, is Saterdag, 26 Oktober doodgeskok nadat hy aan ‘n oorhoofse elektriese kabel geraak het.

Volgens die Noordwes polisiewoordvoerder, kol. Adéle Myburg, het die voorval plaasgevind toe hy en ‘n vriendin Saterdag ongeveer 18:00 foto’s by die treinstasie in Piet Bosmanstraat (naby die Snowflake-gebou), geneem het. Tydens die fotosessie het hy op een van die treintrokke geklim en aan ’n oorhoofse kragkabel geraak wat die trein van elektrisiteit voorsien. Die geweldige skok het hom agteroor laat val.

“Die sekuriteitspersoneel het dadelik ER24 en die polisie gekontak waarna ER24 hom op die toneel dood verklaar het”, sê Myburg. Die polisie het ‘n navraag-dossier geopen.

Arno se vriendin wat saam met hom was, is erg getraumatiseerd en was nie vir mediakommentaar beskikbaar nie. Sy wil ook nie haar naam bekend maak nie.

Vriende en familie van Arno is baie geskok oor die voorval. ‘n Vriend, Pieter Hatting, wat saam met hom op die studenteraad van 2018/2019 gedien het, sê hy is stomgeslaan oor die voorval. “Arno het so uitgesien na sy internskap wat hy as apteker in Hartenbos sou doen. Hy was ‘n joviale mens wat almal altyd opgebeur het en was passievol vir die kunste”, sê Pieter.

Arno was ‘n inwoner van Laureus Manskoskuis en het ook op die huiskomitee gedien. Een van sy mede-koshuisinwoners, Heinrich de Beer, is baie hartseer oor die voorval en sê dat Arno lief was vir die lewe. “Hy was baie avontuurlustig en was ‘n pligsgetroue, harde werker.”

Die Noordwes Universiteit verskaf tans sielkundige bystand aan sy vriende en koshuisinwoners.

Hierdie voorval is die tweede fratsongeluk in ‘n week wat die personeel en studente van die Puk-kampus moet verwerk. ‘n Dosent in opvoedkunde, Rudi van de Venter, is Saterdagoggend, 19 Oktober, dood aangetref nadat hy kop eerste in ‘n sloot geval het wat vir waterpypleidings gegrawe is.

 

Related Articles

Back to top button