
Die polisie soek steeks na die vermiste Heidi Scheepers van Heroldsbaai, en haar twee kinders, Cuzette (6) en Hugo (2).
Heidi (35) en die kinders is Dinsdagmiddag die laaste keer op Heroldsbaai se strand gesien.
Dele van ‘n motor is Woensdag naby Voëlklip, ‘n gewilde hengel- en uitkykpunt naby Heroldsbaai gevind, maar die polisie kon nog nie bevestig of die stukkende dele dalk die van die silwerkleurige Volkswagen Caravelle is waarmee Heidi en die kinders gery het nie. Die soektog by Voëlklip is vanoggend voortgesit.
Heidi se man, Etienne, is die eienaar van die Heroldsbaai kafee.
Die gesin was Dinsdagmiddag strand toe en Etienne sou sy gesin volgens inligting by die huis ontnoet het omdat hy eers moes terugstap na die winkel waar sy motor geparkeer was. Heidi het nie haar selfoon by haar gehad nie. Die egpaar se dogtertjie, Cuzette, is ‘n leerling van die Up with Downs-skool in George.





