NewsNews

Valke het gedreig om seun, broer te arresteer

Valke het gedreig om seun, broer te arresteer

Regter Corné van Zyl het vanmiddag, Woensdag 16 Oktober, voortgegaan met haar opsomming van getuienis wat voor die hof gehoor is in die verhoor van die ses mans van Parys wat tereg staan op klagte van moord na die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba, toe sy verwys het na die getuienis van nog een van die staat se 204 getuienis, Fanie Oosthuizen.

Oosthuizen is aanvanklik in Maart 2016 deur die Valke gearresteer,  maar het later in die verhoor as 204 getuie vir die staat getuig.

In sy getuienis het Ooshuizen gesê dat die Valke gedreig het dat hulle sy broer, Johan, en seun, Daniël, wat ook op die sogenaamde arrestasietoneel op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik was,  sou arresteer, en hy daarom regshulp gekry het selfs nog voor sy arrestasie. Hyself is in Maart 2016, twee maande na die gebeure op Swartklip  gearresteer.

Oosthuizen het getuig oor onder meer sy eie rol tydens die gebeure op Swartklip, en die rol wat Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen, Miela Janse van Vuuren en Wian van der Westhuizen glo sou gespeel het.

Hy’t getuig dat hyself nie Tjixa en Jubeba wou seermaak nie, maar net wou kry om die waarheid te praat oor waar die vuurwapen was wat na bewering tydens die plaasaanval op  Biesiesbult op Loedie van der Westhuizen sr. gebruik is. Tjixa en Jubeba is juis deur ‘n groep mans op Swartklip, skaars 3km van Loedie van der Westhuizen se plaashuis, in hegtenis geneem na talle mense gereageeer het op ‘n noodroep na die plaasaanval.

Die staat het in sy saak aangevoer dat die beskuldigdes Tjixa en Jubeba sodanig op 6 Januarie 2016 op Swartklip sou aangerand het dat hul kort daarna in die Parys en Pelonomi hospitale onderskeidelik aan hul beserings sou beswyk het.

Oosthuizen het onder kruisondervraging ontken dat hy soos getuig is, glo na die verdagtes sou geskop het, omdat ‘n deel van sy groottoon geamputeer is en hy daarom nie kan hardloop, kaalvoet loop of selfs ‘n bal kan skop nie.

Oosthuizen het  in sy getuienis gesê dat hy geskok was oor die geweld wat hy voor hom sien afspeel het, en dat dit sy eerlike opinie is dat daar te ver gegaan is.

Hy het getuig dat een van die verdagtes se gesig een bloedmassa was nadat hy en die ander verdagte agterop Anton Logggenberg se bakkie gelaai is. Ook dat beide mans teen daardie tyd geen reaksie getoon het nie behalwe om swaar asem te haal.

Regter Van Zyl sal môre, Donderdag 17 Oktober, voortgegaan met haar opsomming van getuienis.

Al die beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren, ontken skuld op die klagtes van moord.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button