News

AMSA kondig aan dat sekere aanlegte kan sluit

ArcelorMittal Suid-Afrika (AMSA), tans Afrika se grootste staalvervaardiger, het verlede week aangekondig dat van sy verliesmakende aanlegte moontlik gesluit gaan word. Dit het opnuut skokgolwe deur die Vaaldriehoek gestuur omdat die Vanderbijlparkwerke, wat tans AMSA se grootste in Suid-Afrika is en ook die hoofkantoor van die onderneming huisves, waarskynlik die swaarste deur so ‘n afskaling getref gaan word. Tans het AMSA buiten in Vanderbijlpark ook bedrywighede …

ArcelorMittal Suid-Afrika (AMSA), tans Afrika se grootste staalvervaardiger, het verlede week aangekondig dat van sy verliesmakende aanlegte moontlik gesluit gaan word.
Dit het opnuut skokgolwe deur die Vaaldriehoek gestuur omdat die Vanderbijlparkwerke, wat tans AMSA se grootste in Suid-Afrika is en ook die hoofkantoor van die onderneming huisves, waarskynlik die swaarste deur so ‘n afskaling getref gaan word.
Tans het AMSA buiten in Vanderbijlpark ook bedrywighede in Vereeniging, Newcastle en Saldanha. AMSA het verlede Woensdag, 25 September, op SENS, die nuusdiens van die Johannesburgse aandelebeurs, aangekondig dat al sy bedrywighede by sy verskillende werke hersien gaan word.
Die doelwit van die hersiening is om die langtermyn volhoubaarheid van die maatskappy te versterk en van aanlegte wat tot dusver ‘n negatiewe uitwerking op die maatskappy se finansiële resultate gehad het, ontslae te raak.
Die uitkoms van die hersiening kan daartoe lei dat sekere bedryfspersele, individuele aanlegte en produksiegebiede sluit, met gevolglike konsentrasie van bedrywighede by die oorblywende persele.
Die hersiening sal volgens AMSA se verklaring nie sy kommersiële kooksteenkool-bedrywighede (tans veral gesetel in Vanderbijlpark) óf die beoogde verkryging van die staalmeul van Highveld in Newcastle raak nie. Dit kan wel ander sukkelende aanlegte in dié dorpe raak.
* Amsa het reeds op 10 Julie vanjaar aangekondig dat sowat 2 000 van sy 8 767 werknemers by die onderneming se verskillende werke moontlik afgelê sal moet word. Dit was nadat AMSA in die ses maande tot Junie vanjaar ‘n bedryfsverlies van R222 miljoen getoon het, vergeleke met ‘n bedryfswins van R1,22 miljoen ‘n jaar tevore.
Volgens AMSA word sy winspotensiaal en nasionale sowel as buitelandse mededingendheid voortdurend geknou deur Eskom se stygende kragpryse, Transnet se stygende vragpryse en strawwe mededinging van goedkoop ingevoerde staal uit China.
Volgens AMSA se SENS-verklaring duur die konsultasie met vakbonde oor posbesnoeiings ingevolge artikel 189(3) van die Wet op rbeidsverhoudinge voort.
Dit sal na verwagting in die vierde kwartaal van die jaar gefinaliseer word. Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het dié vakbond AMSA se bestuur versoek om ‘n volledige impakstudie te doen. Solidariteit het ook sy eie navorsingsinstituut opdrag gegee om ‘n onafhanklike impakstudie te doen om die huidige struikelblokke in die staal- en vervaardigingsbedryf te ondersoek. Croucamp skryf die afleggings en hersiening by AMSA onder andere toe aan Eskom se verhoging in kragtariewe en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wat nie ag geslaan het op die staalreus se vroeëre hulpkrete nie.
“Ons het Nersa gewaarsku dat dié verhogings die industrie gaan vernietig. Tog is daar voortgegaan en moet gewone werkers nou die gevolge dra,” is systandpunt.

Related Articles

Back to top button