News

Vaaldriehoekse ‘Clivia-koningin’ praat oor haar passie vir plante

VEREENIGING. – Dit is Petra van Brakel (73) se jarelange passie vir plante en blomme – en veral haar besonderse versameling Clivias – wat haar onder inwoners van Arconpark die bynaam “Clivia-koningin” besorg het. Die rye kleurryke Clivias wat jou in haar voorportaal begroet, is vanjaar iets besonders. Mense gons daaroor en inwoners het al …

VEREENIGING. – Dit is Petra van Brakel (73) se jarelange passie vir plante en blomme – en veral haar besonderse versameling Clivias – wat haar onder inwoners van Arconpark die bynaam “Clivia-koningin” besorg het. Die rye kleurryke Clivias wat jou in haar voorportaal begroet, is vanjaar iets besonders. Mense gons daaroor en inwoners het al selfs die koerant gebel om ons daarvan te vertel.

Die afgetrede kliëntediensadviseur in die bankwese is ongetwyfeld ’n plantliefhebber. Buiten die Clivias het sy ook ander plante soos bladrose – wat reeds knoppies dra en vinnig op pad is om te blom – , haar versameling Inkalelies waarop sy baie trots is, strelitzias, agapante en vele meer. Mense is so beïndruk met haar plante en blomme dat hulle haar gevra het om die tuine van die meenthuiskompleks te versorg. Ten spyte van die kroniese osteoartrose wat dit vir haar moeilik maak om te beweeg, vind sy elke dag die krag om haar plante te versorg. “Hierdie (plante) is maar ’n drop in the bucket van wat ek eens gehad het,” sê sy. Sy het sowat agt jaar gelede nog sowat 30 000 van die plante in potte gehad toe sy en haar oorlede man, Manie, op ’n kleinhoewe op die Villierspad gewoon het. Die kleinhoewe is na haar man se dood verkoop.

Sy vertel: “Hulle het my man een oggend in Bedworthpark gekaap. Hy was nog besig om plante te laai. Toe hy omkyk, kyk hy in die loop van ’n rewolwer vas. Vier mans het hom aangeval en hom vir dood in die garage ingesleep. Daarna het sy gesondheid begin agteruitgaan. Hy was net 60 toe hy oorlede is.”Petra het later met haar geliefde plante na die meenthuiskompleks verhuis. Sy voer hier ‘n rustiger bestaan saam met haar hondjie, Max, tussen hulle blomme.

“Die kweek van Clivias is ’n stokperdjie wat jare neem. Dit gebeur nie oornag nie,” vertel Petra. Volgens haar neem dit sowat vyf jaar vandat die saad geplant is voor die plante vir die eerste keer blom. “Wanneer die sade eers blom vra blomverkopers dikwels tussen R2 000 en R3 000 vir die plante, terwyl jy die saad maklik teen R100 of R200 kan koop,” sê sy. Volgens haar sal jy egter vyf jaar moet wag om te sien tot watter soort blomme die sade sal ontwikkel indien jy wel besluit om die saad te koop. “Jy kan die saad kruisbestuif maar jy het geen waarborg hoe die plant gaan uitkom of dat die saad vir jou iets anders sal gee nie. Dus moet jy geduld hê.”

Volgens haar is elkeen van die plante uniek op sy eie manier. “Deesdae kweek mense nuwe soorte Clivias deur plante te kruisbestuif en skep hulle interessante nuwe variëteite met nuwe name,” vertel Petra. Die plante blom glo vir drie weke in die lente. Petra se plante blom later omdat hulle in die koelte onder ‘n dak is. Volgens Petra moet jy die saad uit die vrugte van die Clivia haal en dit dan op riviersand in ‘n bakkie laat ontkiem. “Sodra die sade uitloop en jy blaartjies en wortels kan sien, kan jy dit in sagte grond in ‘n sakkie plant. Later kan jy dit in ‘n pot oorplant,” verduidelik sy. Volgens Petra is die Clivia ‘n plant wat van koelte hou. Sy het spesiaal ’n dak oor haar voorstoep laat bou teen ’n koste van R15 000. Anders as wat jy mag dink verg die Clivias nie baie moeite nie.
“Hierdie blom vra nie baie van jou nie. Hulle het bitter min water nodig. In die winter gee jy hulle nie eintlik water nie. Hier van einde Julie af kan jy hulle maar so eenmaal ‘n maand water gee (as hulle in die skaduwee staan soos onder haar  dak). “Mense is geneig om hierdie plante te oorwater,” verduidelik Petra. Sy en haar man het reeds in die tagtigerjare al met steggies van Inkalelies begin eksperimenteer. Dit is hier wat hul liefde vir plante ontstaan het. Hulle het later ‘n “goeie bedryf aan die gang gehad” en het gereeld van hulle plante in Johannesburg verkoop. “Die Clivia bly maar my gunsteling plant. Soos die Inkalelie my man se gunsteling plant was. Hulle is maar onder my vel, hierdie goed,” sê sy.

Petra wys die sade van die Clivia. Dit neem sowat vyf jaar vir die plant om vir die eerste keer blomme te dra.

Related Articles

Back to top button