News

Nasionale nuus: Ou Staalnywerheid sluit sy deure

Nasionale nuus: Ou Staalnywerheid sluit sy deure

Robor, die staalnywerheid wat reeds vir 97 jaar in die vervaardiging van staal goedere ’n besondere diens gelewer het, sluit sy deure finaal.

Die vrywillige likwidasie van ’n nywerheid wat staal pype en ander staal produkte vervaardig het, word toegeskryf aan die swak gehalte, goedkoper produkte wat deur Sjinese instansies vervaardig word.

Die Tiso Blackstar maatskappy het in reaksie gesê hy skryf sy R137 miljoen belegging af wat hy in Robor belê het.

Die sluiting van Robor word allerweë beskou as ’n ernstige saal wat grotendeels veroorsaak is deur die regering se beleid van Sjinese ondersteuning ten koste van binnelandse maatskappye, sowel as die swak ekonomiese toestand waarin die land verkeer weens die onvermoë van die ANC regime.

Ook in die Vaal is daar vrese vir ‘n soortgelyke uitkoms. ArcelorMittal Suid-Afrika (AMSA), tans Afrika se grootste staalvervaardiger, het verlede week aangekondig dat van sy verliesmakende aanlegte moontlik gesluit gaan word.

Dit het opnuut skokgolwe deur die Vaaldriehoek gestuur omdat die Vanderbijlparkwerke, wat tans AMSA se grootste in Suid-Afrika is en ook die hoofkantoor van die onderneming huisves, waarskynlik die swaarste deur so ‘n afskaling getref gaan word.
Tans het AMSA buiten in Vanderbijlpark ook bedrywighede in Vereeniging, Newcastle en Saldanha.
AMSA het verlede Woensdag, 25 September, op SENS, die nuusdiens van die Johannesburgse aandelebeurs, aangekondig dat al sy bedrywighede by sy verskillende werke hersien gaan word. Die doelwit van die hersiening is om die langtermyn volhoubaarheid van die maatskappy te versterk en van aanlegte wat tot dusver ‘n negatiewe uitwerking op die maatskappy se finansiële resultate gehad het, ontslae te raak.
Die uitkoms van die hersiening kan daartoe lei dat sekere bedryfspersele, individuele aanlegte en produksiegebiede sluit, met gevolglike konsentrasie van bedrywighede by die oorblywende persele.
Die hersiening sal volgens AMSA se verklaring nie sy kommersiële kooksteenkool-bedrywighede (tans veral gesetel in Vanderbijlpark) óf die beoogde verkryging van die staalmeul van Highveld in Newcastle raak nie. Dit kan wel ander sukkelende aanlegte in dié dorpe raak.

 

Related Articles

Back to top button