News

Begin jou dag met ’n positiewe gedagte

Begin jou dag met ’n positiewe gedagte

Moenie jou brood aan twee kante botter as dit kom by die keuse tussen botter en margarien nie. En hoe gemaak met die sondegeveg oor koffie en tee?
Niks verkeerd met daardie koppie boeretroos of troos tee met teetyd nie, sê Estie Schreiber van SA Natural Products.


Sy sê die ongeskrewe reël is met wat uit die natuur kom, en wat jy in jou kombuis kan maak, kan jy nie verkeerd gaan nie. Daarmee saam is water en suurstof wat met gesonde oefening kom, die geheim van gesond leef.
Estie het dié raad verlede week tydens ‘n gesondheidsdag in Parys gedeel toe sy gesels het oor: “Voel goed, lewe voluit”.
Volgens haar is die groot verkeerd by koffie en tee die manier en oormaat waarmee dit gedrink word. Haar raad – drink koffie soos die Arabiere – suiwer, soos dit uit die natuur kom. Hoe minder verwerk en vars dit is wat jy eet, hoe beter. En daarom kry botter punte bo margarien.
Haar boodskap was dat dit nooit té laat is om ‘n keuse te maak vir ‘n gesonder leefstyl nie. Sy het meer vertel van die A. Vogel-filosofie wat gebaseer is op ‘n sterk immuunstelsel, om sirkulasie in die liggaam te bevorder, die verteringstelsel gesond te hou, en seker te maak dat selaktiwiteit effektief is om die liggaam se senustelsel gesond te hou. Laastens is die liggaam se “filtrasiestelsel” wat die lewer, niere en blaas insluit, een van die grootste “reguleerders” van ‘n gesonde liggaam, het sy gesê.
Die dag is aangebied deur Geen & Velleman Apteek in samewerking met Vrystaat Versorging in Aksie en SA Natural Products.
Tydens die dag kon daar gesels word oor onder meer oefening en biokinetika, voetmasserings gedoen word, raad gekry word by die wondkliniek, ‘n dieetkundige, bloedsuiker en bloeddruk getoets word, of kon jy selfs jou bloedgroep vasstel.

Related Articles

Back to top button