NewsNews

Hulp vir grondgebruikers met beheer van verklaarde onkruid, indringerplante en bosverdigting

Dieselfde projek wat aan GreenThorn toegeken is vir die beheer van Waterhiasinte in die Vaalrivier, bied ook hulp aan grondgebruikers met die beheer van onkruid en indringerplante wat volgens wet (NEMBA) gelys is.

Spanne van GreenThorn het einde Augustus begin met die verwydering van waterhiasinte by onder meer die Mimosa Tuine en Gholfeiland. Die projek is deur die Departement Omgewingsake aan GreenThorn toegeken en het ’n luginspeksie in Mei gewys dat besmettings van dié wateronkruid veral in die omgewings van Lindequesdrift, Oorbietjiesfontein, Krom-elmboogspruit, Witkop, Smilin Thru en by die uitkeerstuwal gesien word.
Stroomaf van Parys is beduidende besmettings tussen die eilande vanaf die Potchefstroom-brug, tot by die eilande onderkant Sunwa gesien.
Dieselfde projek wat aan GreenThorn toegeken is vir die beheer van Waterhiasinte in die Vaalrivier, bied ook hulp aan grondgebruikers met die beheer van onkruid en indringerplante wat volgens wet (NEMBA) gelys is.
Hoewel dit alle grondgebruikers se verantwoordelikheid is om hierdie ongewenste plante op eie koste doeltreffend te beheer, het die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye (DEFF) ’n program om ‘n beperkte aantal boere te help met dié belangrike taak.
Die tweede gedeelte van die GreenThorn-projek behels juis om ’n paar boere, asook op die Parys Gholfbaan, behulpsaam te wees met die beheer van dié plante.
Die beheer van bosverdigting word egter ingevolge die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983 (Wet 43 van 1983) gedoen, hoewel die werk ook deur DEFF befonds word.
Twee spanne van Parys en twee spanne van Vredefort werk aan dié gedeelte van die projek. Al vier hierdie spanne werk al ’n geruime tyd op die plaas Daskop, waar hulle Bankrotbos (Seriphium plumosum) gekap het. Hergroei sal gedurende die groeiseisoen met onkruiddoder behandel word.
Daar word egter beoog om die twee spanne van Parys binnekort na die Parys Golf & Country Estate baan te skuif.
Tydens die eerste fase van die projek sal Bankrotbos gekap word en Bloekombome afgesaag en met onkruiddoder behandel word. Wanneer bome of bosse afgekap word, is dit die verantwoordelikheid van die grondgebruiker om die materiaal te verwyder. Die verwydering van materiaal is noodsaaklik omdat dit toegang tot die terrein vir opvolgwerk kan bemoeilik indien dit nie verwyder word nie.

Inkbessie wat op verskeie plekke op die Vaalrivier se oewers voorkom. Foto: Verskaf

Die twee spanne van Vredefort sal voortgaan met die kap van Bankrotbos op die plaas Daskop. Na voltooiing van die werk op Daskop sal die spanne na plase aangrensend aan die Vaalrivier skuif om onkruid en indringerplante (hoofsaaklik
Inkbessie – Cestrum laevigatum) al langs die oewer te beheer. Aangesien GreenThorn nou saamwerk met die twee Land Care-komitees van Parys en Vredefort, word boere versoek om by die komitees in te skakel om sodoende te kan deel in toekomstige besluitneming waar spanne aangewend kan word. Boere wat belangstel kan met Schalk Burger (082 653 4281) van die plaaslike landboukantoor kontak maak.

Related Articles

Back to top button