VANDERBIJLPARK. – ‘n Sewe en twintigjarige onderwyseres en vriendin van die ontvoerde Amy-Leigh (6) de Jager se ma, Angeline, sal saam met twee ander beskuldigdes Maandag 9 September in die hof in Vanderbijlpark verskyn.
Die name, wat bekend is aan Gazette, word weerhou tot die drie beskuldigdes in die hof verskyn het. Intussen het die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi bevestig dat die juffrou wat ook vir Amy-Leigh se boetie skoolgehou het, Donderdag amptelik van haar pos as onderwyseres by die Laerskool Kollegepark geskors is.
Aldrie beskuldigdes is steeds in aanhouding.
Op sosiale media het ‘n klankgreep intussen versprei waarin die juffrou se stiefpa aan ‘n vriend ‘n boodskap stuur waarin hy sê dat sy dogter die meesterbrein agter die ontvoering is.
Juanita Louw, waarnemende hoof by Laerskool Kollegepark het aan die media gesê dat na die voorval het hulle die sekuriteit by die skool opgeskerp. CCTV kameras word eersdaags by verskeie skole op die dorp geïnstalleer.
Daar was sprake dat ‘n vierde verdagte in hegtenis geneem is wat nog nie bevestig kon word nie. Die polisie het wel bekend gemaak dat daar meer arrestasies verwag kan word en dat daar steed gepoog word om al die skuldiges op te spoor.