
Liezl Scheepers
Na jare se klagtes oor die haglike toestand en besoedeling by Ngwathe se munisipale stortingsterrein vir Vredefort, het lede van die gemeenskap nou self ingespring om ’n verskil aan dié ondraaglike situasie te maak. Die opruiming en verbetering van die vullisstortingsterrein is gedoen deur lede van die Vredefort Koepel Boerevereniging onder leiding van Adolf en Juan Greeff en hul span, asook Pierre Kotze en sy span van Sweethome.

Behalwe dat die terrein opgeruim is, sal daar ook nou voortaan ‘n wakende oog gehou word oor mense wat die stortingsterrein misbruik, of onwettig vullis buite die terrein stort. Soos ook die geval by Parys se stortingsterrein is, stort mense vir kilometers voor die stortingsterrein hul afval.
Daar is nou kameras aan Vrystaat-kant van die Vredefort Koepel opgestel sodat oortreders vasgevat kan word.
Die opruim van die stortingsterrein volg nadat die gemeenskap ongeveer vyf jaar gelede al die gevare en probleme by die stortingsterrein aan verteenwoordigers van omgewingsake uitgewys het, en ‘n lid van die publiek, Jan-Louis Venter, ook ’n klag van besoedeling teen die Ngwathe munisipaliteit gelê het. Van die beloftes van hulp om die situasie by die stortingsterrein reg te ruk, het egter niks van gekom oor die jare nie.
Sedertdien was daar al verskeie brande by die stortingsterrein met verreikende gevolge – onder meer ‘n man en kind wat in Mei vanjaar op die stortingsterrein gesterf het in ’n brand.



