LetterOpinions

Valke-ondersoek na korrupsie by Puk

Gerhard van der Merwe Die Valke-ondersoek na sogenaamde onreëlmatighede of korrupsie in die oorbetaling van R10 miljoen na die North West Higher Education Trust (NWHET), bluf niemand nie. Dit is duidelik bloot ‘n heksejag na dr. Theuns Eloff en die bestuur van die Pukkampus van die NWU. Vandat hierdie bewerings maande gelede deur prof. Dan …

Gerhard van der Merwe

Die Valke-ondersoek na sogenaamde onreëlmatighede of korrupsie in die oorbetaling van R10 miljoen na die North West Higher Education Trust (NWHET), bluf niemand nie. Dit is duidelik bloot ‘n heksejag na dr. Theuns Eloff en die bestuur van die Pukkampus van die NWU.

Vandat hierdie bewerings maande gelede deur prof. Dan Kgwadi gemaak is, het niemand nog met enige substantiewe bewyse vorendag gekom nie. Korrupsie word immers gepleeg met die doel om iemand onregmatig te verryk. In hierdie geval is daar nie ‘n sent weg nie. Die begunstigde trust is ‘n organisasie sonder winsbejag. Die skepping van die trust en sy doelstellings was nog nooit ‘n geheim nie. Die voorgenome uitbetaling, sowel as die uitvoering daarvan, is op die hoogste vlak gekonsulteer en goedgekeur. Die Trust is immers geskep tot die uitsluitlike voordeel van die NWU.

Uit bogenoemde is dit dus kristalhelder dat die enigste doel van die sogenaamde ondersoek (wat seker nog jare gaan duur en op niks uitloop nie) is om as weerligafleier te dien, terwyl prof. Kgwadi en sy meelopers hulle “transformasieplanne” ten alle koste deurforseer. Hulle is skynbaar sonder enige morele wroeging bereid om selfs karaktermoord te pleeg om hul doelwitte te bereik.

Prof. Kgwadi is nou al bykans ‘n jaar in sy nuwe pos. Het hy in hierdie tyd enige enkele inisiatief (soos bv. die NWHET) geloods wat tot die vooruitgang van die universiteit sal bydra? Die antwoord is ongelukkig negatief. Hy het wel mildelik bygedra tot ‘n kultuur van polarisasie en die vervreemding van onder meer alumni, wat nog altyd vrywillig ‘n essensiële ondersteuningsrol vir die universiteit vervul het.

Die NWU Raadsvoorsitter, adv. Johan Kruger, antwoord:

Die verslag insake die forensiese ondersoek het onlangs beskikbaar geword en is op die afgelope vergadering van die Uitvoerende Komitee van die Raad bespreek, waarna dit aan die volgende Raadsvergadering voorgelê sal word. Die hele aangeleentheid word dus ordelik , verantwoordelik en sensitief hanteer.

Geen klagtes van enige aard is deur die NWU of enige van sy ampsdraers, teen dr. Theuns Eloff by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanhangig gemaak nie. Sover die NWU se kennis strek is klagtes wel deur ‘n buite-organisasie, die Higher Education Transformation Network, teen dr. Eloff gelê. Die NWU dra egter geen eerstehandse kennis van die aard daarvan nie.

Wat betref die strategie-hersieningsproses waarmee die NWU tans besig is, doen ek’n beroep op alle belanghebbers om die proses te respekteer en hulle daarvan te weerhou om vooraf ‘n oordeel te vel of om ‘n negatiewe klimaat te skep.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button