NewsNews

SA Huweliksweek 2019 fokus op die invloed van temperamente op ‘n huwelik

SA Huweliksweek 2019 fokus op die invloed van temperamente op ‘n huwelik

 

 

SA Huweliksweek fokus vanjaar op die verbetering van begrip tussen huwelikspartye. Gedurende dié jaarlikse instelling, wat vanjaar sy sewende bestaansjaar vier, word ‘n verhoudings-temperament of tegniek aan paartjies bekendgestel, waarmee mense hul eie temperamente kan bepaal, asook dié van hul huweliksmaats.

 

Die tema van SA Huweliksweek vanjaar is: “Maak sin van my, jou en ons lewe saam.” Die doel is om paartjies te help om hulself en hul huweliksmaats beter te verstaan, sodat die getroude lewe makliker en lekkerder is.

 

“Kennis bring begrip. Ons wil paartjies bemagtig om vanjaar iets merkwaardig vir hul huwelike te doen. Ons wil hulle toerus met ‘n verhoudings-instrument wat hul huwelike op die lange duur sal bevoordeel,” vertel Liezel van der Merwe, Stigter van SA Huweliksweek en Direkteur van intiem.co.za en die huweliksprogram Marriage Capsule.

 

SA Huweliksweek word vanjaar, oudergewoonte, vanaf 1-7 September gevier. Gedurende dié week word paartjies regoor die land gemotiveer om te fokus op die welstand van hul huwelike om sodoende ‘n heel gesin en gevolglik ‘n gesonde gemeenskap te bewerkstellig.

 

Dié inisiatief is deel van die wêreldwye “Marriage Week International”, met die visie om Huweliksweek teen 2021 in 75 lande te sien realiseer.

 

Die verhoudings-instrument waarna Liezel verwys kan ook as ‘n tegniek beskryf word: Stel jou en jou maat se temperament vas en kyk hoe jul unieke temperament-kombinasie tot voordeel van jul huwelik kan strek.

 

“Jou temperament is die oorspronklike weergawe van wie jy is en dit bepaal hoe jy op die wêreld se impulse reageer,” vertel Liezel. “’n Begrip van jul onderskeie temperamente kan ‘n huwelik dramaties affekteer – ten goede.”

 

Gedurende SA Huweliksweek kan paartjies die LOFS-temperamenttoets in die gerief van hul eie huis en op hul eie tyd doen. Die resultate kan daartoe bydra dat huwelikspartye mekaar beter verstaan, konflik kan minimaliseer, kommunikasie kan verbeter en mekaar se behoeftes beter kan leer verstaan. Dit kan ook meer lig werp op die dinamika wat tussen ‘n huwelikspaartjie heers.

 

Die LOFS temperament-toets is ontwikkel deur MarriageCapsule en is gebaseer op die vier temperamente wat deur Hippocrates vasgestel is. Die LOFS-toets verdeel die vier temperamente in watervorme: Lake, Ocean, Fountain en Snow.

 

Slegs 55% van paartjies in Suid-Afrika se huwelike slaag en Liezel glo dat die LOFS-temperament-toets ‘n paartjie ‘n beter kans gun om deel van dié statistiek te wees.

 

Belangstellende paartjies kan vanaf 1-7 September kies tussen ‘n gratis of betaalde weergawe van die LOFS-temperament-toets. Die gratis weergawe gee jou leiding oor hoe om te bepaal wat jul onderskeie temperamente is. Die betaalde weergawe (R150 per paartjie) stel jul primêre, sekondêre en unieke kombinasie-temperamente vas.

 

Dié mini-kursus sal jou wys hoe om jouself en jou maat beter te verstaan en sodoende jul huwelik beter te bestuur. Die betaalde LOFS-temperament-toets sluit ook ‘n gratis e-boek met gereelde vrae en antwoorde oor temperamente vir paartjies in.

 

“Ons glo werklik die temperament-toets is merkwaardig en kan soos ‘n superkrag in jou huwelik werk,” meen Liezel. Ons hoop dat elke getroude persoon in Suid-Afrika teen die einde van Huweliksweek sal weet wat hul eie – en hul huweliksmaats – se temperamente is. Ons voorsien ook praktiese inligting aan deelnemers oor hoe om saam die lewe te bestuur.”

 

Die organiseerders van SA Huweliksweek het groot planne vir vanjaar se vieringe en ‘n piekniek in Franse styl by INTIEM se liefdesbrug in Magnolia Dal is op die agenda. “Ons moedig graag paartjies aan om gratis op ons webtuiste te registreer vir wonderlike inligting en voordele, en om ander paartjies aan te moedig om dieselfde te doen. Dit is een week waar huwelike in Suid-Afrika prioriteit behoort te geniet.”

 

Registreer gratis op www.sahuweliksweek.co.za of www.samarriageweek.co.za om lid te word van SA Huweliksweek. Kontak die SA Huweliksweek-span by 012 347 7530 of stuur ‘n epos aan info@sahuweliksweek.co.za Volg SA Huweliksweek ook op facebook by: www.facebook.com/sahuweliksweek of Twitter www.twitter.com/sahuweliksweek

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button