
As deel van ’n bewusmakingsaksie deur die SAPD en GPF, het a.o. Jan le Roux Sondag met gemeentelede van die NG gemeente Parys-Oos gesels.
A.o. Le Roux het gesê dat diefstal steeds kommerwekkend hoog in die dorp is, asook diefstal by wonings en besighede. Wat wel verblydend is, is dat daar nie veediefstalsake sover vir die maand by die Parys SAPD gerapporteer is nie.
Daar was wel weer twee voertuigdiefstalle die afgelope week by Parys Auctioneers en President Krugerweg onderskeidelik.
A.O. Jan le Roux het in sy boodskap ook spesifiek met die kinders gepraat en gewys op die gevaar en erns van dwelmmisbruik, ook hier in Parys.
Hy het gewaarsku teen toenemende gevalle van internet- en kaartbedrog en beklemtoon dat hierdie misdadigers baie moeilik vasgetrek word, omdat hulle vals kontakbesonderhede gebruik, en bankrekenings onmiddellik sluit nadat die niksvermoedende slagoffer geld oorbetaal het.
Hy het gesê dat hoewel die getal polisielede sedert 1990 hier in Parys drasties afgeneem het, asook die beskikbaarheid van polisievoertuie, daar altyd gepoog word om diensbaar te wees aan die publiek. Hy het gevra dat mense sou hul nie gelukkig wees met die polisie se dienslewering nie, dit by die stasiekommissaris self rapporteer.





