News

Die Vaal spog met ons eie Ster-Status prinses

Die Vaal spog met ons eie Ster-Status prinses

Jenine Grobler, beter bekend as Anastasia van kykNET se Getroud met Rugby, het die Vaaldriehoek se naam hoog gehou toe sy onlangs as Silwerprinses (eerste prinses) van VIA (TV-kanaal 147) en Apprentesses SA se realiteitsprogram, Ster-Status, aangewys is. Sy het ook die Portefeulje-afdeling van dié kompetisie gewen.

Jenine is ‘n 24-jarige aktrise en skoonheidsalon-eienaar (Belle Beauty by Jenine) van Vanderbijlpark en oudleerling van Hoërskool Driehoek. Buiten haar voorliefde vir die vermaak- en skoonheidsbedryf spog hierdie pragtige brunet ook met ’n diploma in modeontwerp.

“Toe ek vir die eerste keer van die program hoor, het ek net geweet dat ek moet inskryf. Ek speel al van jongs af toneel en is versot op die vermaakbedryf. Ek wil graag ander jong meisies, veral dié wat uit klein dorpies kom, motiveer om groot drome wat onmoontlik lyk, na te streef,” sê sy.

Jenine beskryf haarself as hardwerkend en ambisieus en vind inspirasie in geloof en verhale van deursettingsvermoë. Karen Zoid is een van haar grootste rolmodelle weens haar sakevernuf, veelsydigheid en sin vir humor.

Omdat sy self al harde klippe moes kou om te kom waar sy is, het Jenine vroeg reeds besef dat harde werk en ’n positiewe gesindheid die beste bestanddele vir sukses is.

“Die lewe het my geleer om te aanvaar dat God in beheer is, dat ek in my vermoëns moet glo en dat die besluite wat ek neem, my toekoms gaan bepaal. Om deel te neem aan Ster-Status was een van die beste besluite van my lewe. Ek het van my rolmodelle ontmoet en soveel kennis, vriende en lewenslesse bymekaargemaak. Hierdie reis het my vertroue gegee oor wie ek is en ’n splinternuwe passie vir die vermaakbedryf binne my laat opvlam,” vertel sy.

“Ek is so dankbaar vir dié geleentheid om die Silwerwenner te wees en sien uit na hierdie splinternuwe hoofstuk van my lewe.”

* Ster-Status is die eerste program van sy soort op Suid-Afrikaanse bodem en fokus daarop om jong vroue aan die vermaakbedryf bekend te stel deur middel van werkswinkels, opleidingsessies en verskeie uitdagings om hulle voor te berei op ’n suksesvolle lewe in die kollig.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button