News

Listeriose eis veelsydige wiskundige

Prof. Dirk Laurie se gesin onthou hom egter veral vir sy belangstelling in mense en vir die hegte band wat hy met dié na aan hom gekoester het.

 

Een van Suid-Afrika se briljantste wiskundiges, prof. Dirk Laurie (73), het op 10 Augustus in Mediclinic Hermanus gesterf nadat hy glo listeriose wat breinskade veroorsaak het, opgedoen het.

Sy weerstand teen die siekte was glo verswak weens behandeling wat hy vir ‘n seldsame soort kanker ontvang het.

Oudstudente en personeel van die Noordwes-Universiteit in Vanderbijlpark sal die kleurryke prof. Laurie as ‘n uitmuntende wiskunde-dosent uit die jare 80 en 90 onthou, wat sy vak met passie, toewyding en dikwels selfs humor aangebied het.

“Hy wou denke stimuleer eerder as om bloot kennis oor te dra,” sê sy seun, Diederik, wat in die 1990s as Engelse taalversorger/joernalis aan Vaalweekblad verbonde was.

Wiskunde was egter lank nie prof. Laurie se enigste belangstelling nie. Op sy biografieë op die internet, waar hy ‘n besonder wye voetspoor gehad het, het hy homself onder andere beskryf as iemand met ‘n belangstelling in die wiskunde, rekenaars, klassieke musiek, koorsang, skaak, letterkunde, blokkiesraaisels, tennis, verkiesings, stamboomnavorsing, braaivleis (vars vis) en rooiwyn.

Sy gesin onthou hom egter veral vir sy belangstelling in mense en vir die hegte band wat hy met dié na aan hom gekoester het. “Hy het mense se keuses en gelowe gerespekteer en ‘jy mag nie oordeel nie’ uitgeleef,” sê Diederik. Hy sal sy pa veral onthou vir sy sang. “Hy het Paulus se boodskap oor die liefde op ‘n wysie van Beethoven gesing – dit was ‘n gunstelingteks,” onthou Diederik.

Prof. Laurie het as seun van ‘n aktuaris aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikuleer en in wiskunde en wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch studeer voordat hy sy doktorsgraad in 1977 in Skotland verwerf het. Hy het deur die jare onder andere by die WNNR se Nasionale Instituut vir Wiskundige Wetenskappe, 17 jaar by die NWU-Vaal en daarna by die Universiteit van Stellenbosch gewerk.

Prof. Laurie was die skrywer van sowat 50 navorsingsartikels oor numeriese analise en was 30 jaar lank ‘n mede-opsteller van die derderondevraestel in die Suid-Afrikaanse Wiskunde-Olimpiade.

Hy het ses internasionale Wiskunde-Olimpiades saam met die Suid-Afrikaanse span deurgemaak. In 2006 is hy met die Havenga-prys vir Wiskundige Wetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer. Die algemene publiek sal hom egter veral onthou as gesaghebbende voorspeller en interpreteerder op TV, voor en tydens baie van Suid-Afrika se algemene verkiesings.

Prof. Laurie word oorleef deur sy skilder/skrywervrou, Trienke, hul vyf seuns, Kestel, Dirk-Pieter, Henri, Reenen en Diederik, skoonkinders en ses kleinkinders.

Hy is op 16 Augustus uit die NG gemeente Gansbaai begrawe.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button