Entertainment

Vroeë Musiek ook so in SA bekendgestel

Hierdie is 'n geleentheid om nie mis te loop nie.

Die Koepel Kunstesentrum op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel bied sedert 2008 elke jaar verskeie musiekkursusse en orkesprojekte aan, met swaartepunt Vroeë Musiek. Die historiese uitvoeringspraktyk is ´n tradisie van musiekuitvoering wat ten doel het om musiek uit die verlede uit te voer met die instrumente en die uitvoeringsideale van die tyd waarin dit gekomponeer is. Hierdie benadering is relatief nuut, en is veral in Suid-Afrika nog onbekend, al het die voorlopers van die beweging reeds in die middel van die vorige eeu in Europa daarmee begin. Vandag is Vroeë Musiek in die westerse kunsmusiek goed verteenwoordig, en dit is die doelstelling van die Koepel Kunstesentrum om deur middel van gereelde kursusse Suid-Afrikaanse musici op te lei, en om uitvoeringsgeleenthede te voorsien om die historiese uitvoeringspraktyk ook in ons land stewig te vestig.
Groot suksesse is reeds in die afgelope jare op die gebied behaal, met die medewerking van deskundiges uit die buiteland en Suid-Afrikaanse musici wat hulle op die gebied bekwaam het.
So is reeds in 2010 onder die regie van die Suid-Afrikaanse tenoor Kobie van Rensburg die Händel opera Acis en Galatea opgevoer, begelei deur die Nederlandse ensemble Furor Musicus. Intussen is verskeie groot en bekende werke soos die Requiem van Mozart, Händel se Messias en die Johannespassie van Bach uitgevoer. Die buitelandse musici wat betrokke is, is almal baie geesdriftig oor die aktiwiteite en kom gereeld weer terug. So besoek die Nederlandse violiste Antoinette Lohmann, hoof van Vroeë Musiek aan die Konservatorium Utrecht, Suid-Afrika sedert 2008 jaarliks minstens tweemaal. Sy het vroeër vanjaar die uitvoering van Haydn se Stabat Mater gelei en sal in Oktober in `n soloprogram deur die hele land te hore wees.

Die foto is vroeër vanjaar geneem van die groep wat in Februarie hier was. Foto: Verskaf

Die komende seminaar van barokmusiek uit Sentraal- en Suidamerika vind in die laaste week van hierdie maand op Deelfontein plaas en word gelei deur die Oostenrykse dirigent Michael Anderl. Die klein besetting van ongeveer twintig sangers en instrumentaliste sal onder sy leiding `n program van gewyde musiek instudeer en op Saterdag 31 Augustus om 18:00 `n afsluitingskonsert in die NG Kerk Vredefort aanbied.
Kaartjies is by die deur beskikbaar en kos R100 per persoon. Meer inligting op www.deelfontein.co.za en by Gerhard Benade by 083 280 9784 of gerhard@deelfontein.co.za.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button