
“As jy iets wil doen, en dit is bereikbaar, KÁN jy dit doen. Ongeag wie en wat jy is.”
So sê die 77-jarige Jakkie van der Colff, ‘n afgetrede predikant, en kranige fietsryer vanaf 2013. Hy pak eersdaags ‘n fietstoer ten bate van Die Voortrekkers aan.
Jakkie beplan om ongeveer 2700 km met die fiets te ry deur 5 provinsies en 50 dorpe.
Op 17 Augustus vertrek hy vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria en sal hy ses weke later op 21 September, by die Taalmonument in die Paarl arriveer.
Soos met sy vorige fietstoere, gaan hy hierdie fietstoer man alleen aanpak, sonder begeleiding of ‘n ondersteuningsvoertuig wat hom vergesel.
Die Vrystaat verwelkom Jakkie tussen 20 en 25 Augustus. Hy sal op 20 Augustus by Parys Kommando wees wanneer die Voortrekkermaats hom ook die historiese plekke en monumente van die dorp sal wys.
Jy kan help fondse insamel vir die Voortrekkers met dié toer deur Jakkie per kilometer te borg. Gelde kan in die Parys-kommando se rekening inbetaal word. Die rekeningbesonderhede is: Parys Voortrekkerkommando, ABSA, tjekrekeningnommer 113 094 0028. Gebruik “Oom Jakkie” as verwysing.
Volg ook gerus die Rol-die-wiele fietstoer op Facebook om te sien waar Jakkie hom tydens die toer bevind. (kyk ook na die hutsmerke #roldiewielefietstoer #DieVoortrekkers)




