NewsNews

Duitse blaasorkes dié naweek in Vredefort

Duitse blaasorkes dié naweek in Vredefort

Die Duitse blaasorkes saam met die Deo Gloria-koor en bekende soliste van Vredefort, kan hierdie Sondag, 18 Augustus om 11:45 gratis in die NG Kerk in Vredefort gehoor word.
Die internasionaal bekroonde orkes uit Duitsland, die Kreisjugend-Orchester Ludwigsburg (KJO), gaan dié kerk laat dreun met hul blaasinstrumente, want in hierdie orkes word daar op van trompette tot piccolo’s en reuse tuba’s geblaas.
Die orkes onder leiding van die dirigent Roland Haug, bestaan uit 80 jong musici tussen die ouderdom van 12 en 21.
Hulle is almal opgelei om hulle instrumente meesterlik te bespeel.
Die orkeslede word uitgesoek op grond van hulle musiektalent en -prestasies.
Dit is ʼn uitgelese orkes van die hoogste gehalte en word beskou as ’n sieraad in die kulturele kroon van Stuttgart.
Die orkes het reeds ʼn paar CD’s vrygestel en werk steeds daaraan om vir die publiek nuwe musikale hoogtepunte te bied.
Die KJO het ook internasionale roem verwerf en vier vanjaar sy dertigste bestaansjaar, onder andere met ‘n toer deur Suid-Afrika.
Die konsert in Vredefort beloof om ʼn fees van ligte klassieke en populêre musiek te wees.
Die Deo Gloria-koor gaan uit volle bors saamsing wanneer bekende werke soos “O sole mio’, “Brindisi”, die “Slawekoor” en “Mack the Knife” gespeel word.
Konsertgangers sal boonop die room van die Noord-Vrystaat se soliste saam met die orkes sien optree.
Truter Odendaal, Heine Brüssow, Lappies Labuschagne, Werner van Coller, Gerhard Janse van Rensburg en Judé Hirst gaan tot die feestelike kombinasie van blaasmusiek en sang bydra.
Toegang is gratis maar donasies is altyd baie welkom.
Pannekoek met vulsels en/of kaneelsuiker sal na die konsert verkoop word.
Kom deel in die vreugde van die dag en help die organiseerders van Vredefort om die kerk stampvol te maak vir die Duitse besoekers!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button