NewsNews

Vermeende skaapdiewe in hof na hul deur boere vasgetrek is

‘n Boer het drie mans op heterdaad betrap toe hulle een van sy skape in hulle Toyota Corolla laai.

Vier vemeende skaapdiewe het Maandag, 5 Augustus, vir ‘n tweede keer in die Landroshof op Ventersdorp verskyn nadat boere in die omgewing gehelp het om hulle vas te trek.

Volgens kol. Adéle Muburgh het die voorval op Maandag, 29 Julie omstreeks 06:30 op ‘n plaas naby Ventersdorp plaasgevind. ‘n Boer het drie mans op heterdaad betrap toe hulle een van sy skape in hulle Toyota Corolla laai.

Die verdagtes het weggejaag toe hulle die boer sien en nege ander vasgebinde skape in die lang gras agtergelaat. ‘n Jaagtog het ontstaan terwyl die polisie ontbied is.

Ander boere in die omgewing het ook aan die jaagtog deelgeneem en ‘n padblokkade gevorm om die vermeende diewe te stop.

In ‘n poging om te ontsnap, het die voortvlugtendes van die pad af gery en ‘n dienspad langs die treinspoor naby die Ratsegai stasie gevolg. Hul motor se onderstel het later vasgeval terwyl die wiele nog gedraai het. Die friksie wat dit veroorsaak het, het die motor aan die brand laat slaan.

Die vemeende diewe het op die vlug geslaan, maar een van hulle is deur ‘n boer gevang en aan die polisie oorhandig toe hulle by die toneel opdaag.

Die skaap is uit die brandende motor gered en die nege ander skape is aan die eienaar terugbesorg.

Die polisie se veediefstaleenheid het later nog drie verdagtes by die Tshing-nedersetting in hegtenis geneem. Simphiwe Sehumelo (20), Anthony Moosa Kock (31), Stone Daniël Matabela (30) en Itumeleng Modisane (19) word met die diefstal verbind.

Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, genl. maj. Ryno Naidoo, het die boere geprys vir hulle vinnige optrede en hulp om die diewe vas te trek.

Hy is ook vol lof vir die boer wat sy skape volgens die Wet op Diere-identifikasie, 2002 gemerk het. Sodoende kan diere met sekerheid aan hul regte eienaar terugbesorg word.

“Misdaad sal afneem en gemeenskappe sal veiliger wees wanneer die polisie en lede van die gemeenskap saamwerk”, sê hy.

Related Articles

Back to top button