NewsNews

Vrou glo nie haar man is dood; pleit dat hy moet huis toe kom

Vrou glo nie haar man is dood; pleit dat hy moet huis toe kom

’n Potchefstroomse vrou, Amanda Bothma, glo nie dat haar man, Christo, wat verlede jaar in Wes-Afrika ontvoer is, dood is nie.
Mev. Bothma het Sondag die nuus gekry dat haar man dood is, en moontlik iewers in ’n vreemde land begrawe is. Sy sal dié nuus egter eers glo wanneer sy konkrete bewyse van haar man se dood kry.
“Ons glo en hoop maar dat dit nie die waarheid is nie, dat hy wel nog leef,” sê sy.
Die nuus is aan haar in ’n boodskap deur dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, oorgedra.
Volgens die boodskap het twee van die organisasie se tussengangers, een van Mali en een van Niger, bevestig dat mnr. Bothma dood is. Hulle het ook gesê dat die seun van mnr. Bothma se werkgewer, wat saam met hom ontvoer is, siek is.
Mnr. Bothma is op 23 September 2018 in Burkina Faso in Inata, waar hy as passer en draaier by die Inata-myn gewerk het, ontvoer.
Hy was aan die einde van sy vier-maande skof en sou op 10 Oktober na Potchefstroom terugkeer om vir twee weke vir sy familie te kom kuier.
Sy gesin het egter aanhou hoop en bid dat hy vrygelaat sal word. Sooliman, wat oorspronklik ook van Potchefstroom af kom, het probeer om met die ontvoerders te onderhandel vir mnr. Bothma se vrylating, maar sy ontvoerders het nie ’n aanbod wat gemaak is, aanvaar nie.
Volgens mev. Bothma gaan Sooliman iemand stuur om presies uit te vind hoe mnr. Bothma dood is, waar sy liggaam begrawe is en om sy liggaam na Suid-Afrika terug te bring.
Behalwe vir die tragiese moontlikheid dat hy wel dood is, kan sy gesin ook nog hul huis in Potchefstroom verloor, aangesien mnr. Bothma die broodwinner in die huishouding was.
Mev. Bothma sê sy en hul drie kinders kry geen finansiële ondersteuning van haar man se werkgewers nie. Hoewel sy onlangs begin werk het, verdien sy nie genoeg om die maandelikse paaiement op die huis te betaal nie.

Om die gesin by te staan, kan ‘n skenking tot hul fonds by die volgende skakel: https://gogetfunding.com/help-save-kidnapped-christo-bothmas-house/# gemaak word. 
Skenkings op die webtuiste word in dollars gemaak, so skenkers moet net seker maak van die rand-waarde voor hulle ‘n skenking maak.

Related Articles

Back to top button