Entertainment

Toer saam na historiese plase naby Potch

Toer saam na historiese plase naby Potch

‘n Plaastoer wat historiese besoekpunte soos die Gerhardminnebron, die Voortrekkers se eerste nedersetting by Oudedorp en Andries Potgieter se plaas, Witstinkhoutboom insluit, vind op Saterdag, 17 Augustus plaas.

Heritage Potchefstroom Erfenis is die organiseerders van dié toer en kaartjies word teen R180 per persoon verkoop. Die koste sluit verversings, middagete en vervoer in.

Die plase langs die Mooirivier was van die eerstes waar die Voortrekkers hulself noord van die Vaalrivier gevestig het. Van die oudste begraafplase en strukture op dié plase het behou gebly.

Die fontein by Gerhardminnebron is een van die grootste waterbronne van Potchefstroom. Die fontein produseer so ver as menseheugnis strek ’n konstante stroom water van 4,3 kubieke meter water per sekonde. Die historiese plaashuis dateer uit die 1840’s en is gebou binne ’n dekade na die Voortrekkers in die omgewing opgedaag het. Volgens oorlewering het Sarie Marais van die bekende volksliedjie op dié plaas gebly.

Anderland is in die hart van Oudedorp, die plek waar die Voortrekkers Potchefstroom in November 1838 gestig het en Witstinkhoutboom was die plaas van Andries Hendrik Potgieter, leier van die Voortrekkers. ’n Huis op dié plaas, is volgens oorlewering deur Potgieter self gebou.

Die toer doen ook aan by Frederikstad, waar daar groot drome was vir die bou van ’n stad en waar die Slag van Frederikstad tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het.

Peter Coulter van Gerhardminnebron stel sy ou Spoorwegbus uit die 1970’s vir die toer beskikbaar om ’n nog meer outentieke ervaring te skep. Kaartjies sluit koffie en beskuit vir ontbyt, verversings en middagete in. Die toer begin om 08:00 by die President Pretoriusmuseum. Parkering is beskikbaar op die terrein van die museum en kan uit Oosthuizenstraat bereik word.

Stuur ’n SMS- of WhatsApp-boodskap aan Danell de Wet by 083 751 7336 om te bespreek. Slegs 50 sitplekke is beskikbaar. Bevestig jou bespreking met die betaling van die kaartjie in Heritage Potchefstroom Erfenis se bankrekening (ABSA, 680 790 582, verwysing PT en jou van). Stuur ’n bewys van betaling na heritagepotch@gmail.com.

Related Articles

Back to top button