NewsNews

Dorp se pienk granietstene nog net so welkom

Dorp se pienk granietstene nog net so welkom

Die gevangenis in Parys, die pragtige Poskantoor-gebou en selfs die senotaaf in die Voortrekkermonument.
Dit is waar jy onder meer die welbekende en pragtige Parys graniet met sy kenmerkende pienk vlamme sal sien. ‘n Kosbare deel van Parys se geskiedenis.
Dieselfde pienk graniet wat vir jare jou verwelkom het by die dorpsingange soos jy Parys van Sasolburg en Vredefort se kant binne gery het.
Voor die woorde: “Welkom in Parys” en dalk minder raakgesien – agterop die woorde: “Veilige reis”.
Maar ’n projek van die Fezile Dabi distriksmunisipaliteit vir verfraaiing van die dorpsingange, het Parysenaars wat die geskiedenis van die dorp koester, diep ongelukkig gehad.
Want reg voor die pienk granietsteen by die ingang na die dorp van Sasolburg-kant, staan nou twee netjies geboude steenmure wat deel vorm van die projek om besoekers aan die dorp te verwelkom.
By die Vredefort-ingang is die steenmure wel ’n ent van die granietsteen gebou sodat die steen steeds sigbaar is.


Die goeie nuus is dat verteenwoordigers van die Parys-museum en die Vredefort Dome Tourism Association, verlede week met verteenwoordigers van die Fezile Dabi distriksmunisipaliteit en die Ngwathe munisipaliteit vergader het by die Sasolburg-ingang oor die netelige kwessie van die pienk graniet.
Die uiteinde is dat daar nou ’n beter begrip is van hoe belangrik die granietstene is as deel van die dorp se ontwikkelingsgeskiedenis. Daar kon ooreengekom word
dat die steen vorentoe geskuif sal word sodat dit selfs nog beter sigbaar sal wees, en so geplaas sal word dat mense sal kan stilhou en kan foto’s neem by die dorpsingang.
Naas die nuwe verligte verwelkomingsborde is verneem dat die projek ook ’n nuwe straatkaartbord sal insluit.
Uit vervloë se dae
Graniet mynbou in die Vredefort Koepel het teen ongeveer 1890 begin, en ongeveer in 1998 geëindig.
Die granietblokke wat gemyn was is hoofsaaklik gebruik vir konstruksiedoeleindes, veral in staatsgeboue.
So was een van die eerste geboue wat daarmee gebou was die gevangenis in Parys wat in 1896 gebou is, en kort daarna die Parys Poskantoor.
Die Parys graniet of “African Jiparano”, was ook gebruik met die opgradering van die Johannesburgse lughawe in 2009, by die gebou van die Ontvanger van Inkomste in Rissikstraat, Johannesburg, en by die Voortrekkermonument in Pretoria.


Heelwat van die graniet is ook na die buiteland uitgevoer, veral na Duitsland en Italië.
In 1971 was die uitvoer van graniet die elfde grootste mineraaluitvoer van Suid-Afrika, bo en behalwe goud en platinum.
Die Parys graniet was meestal fyngespikkeld, het pienkkleurige vlamme gehad, en was van hoë gehalte.
Dit was ook baie hard om te bewerk en het dit ure geneem om ‘n granietblok uitgesny te kry.
Die granietmyne in die Vredefort Koepel was veral in die omgewings van Kopjeskraal, Rietpoort, Rensburg Drift, Spitzkop en Otavi.
Uiteindelik het die graniet mynbou tot ‘n einde gekom, hoofsaaklik as gevolg van omgewingsdruk van die plaaslike gemeenskap, en omgewingsgroepe wat ontsteld was oor die verskriklike geraas van die toerusting wat gebruik is om die granietblokke uit te haal, die swart pseudotachyliet in die graniet wat nie destyds voldoen het aan die internasionale goedkeuring nie, (tans is dit egter een van die bewyse van ‘n meteoriet impak), buitensporig hoë stygings in uitvoerkostes en skeepsvragkostes, die “graniet-modegier” wat grootliks oorgewaai het, en groter belangstelling in Brits doleriet wat makliker en sagter was om te bewerk

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button